HOFMEYR NUUS - Op die plaas Waterlea, in die Hofmeyr-distrik, woon die vier Fouries - en hulle is altyd aan die gang. Karenza Fourie, is ‘n kranige pilatesentoesias en ook ‘n ywerige zumbadanser.
Jan Fourie het so pas sy vierde Comrades voltooi, nadat hy in 2006 sy derde Comrades gehardloop het.
“Ek het verlede jaar na die Comrades weer lus gekry om te gaan deelneem, en ek het dadelik skouer aan die wiel gesit en begin oefen. Die gogga het behoorlik gebyt. By die Kloppers-marathon in Bloemfontein kon ek my kwalifiserende tyd van 3:32 behaal. Ek het in die Comrades se C-groep weggespring en in 8:45 klaargemaak," sê Jan.
Daniël (13), spandeer meeste van sy tyd met elektronika en al die gewoel en werskaf om hom gaan ongesiens by hom verby. “Sy opwinding gebeur sommer hier reg voor sy oë,” sê Karenza.
Lexi (11) is ‘n perderuiter van formaat. Sy word deur Karenza afgerig en is ‘n uitblinker in uithouritte, dressuur (dressage), skouspring en behaal talle pryse tydens skoue met ‘n verskeidenheid pragtige perde.
Die bure is al gewoond daaraan dat ‘n Fourie verby huppel - te voet of te perd.
Lexi met toekennings wat sy en haar perde verower het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’