KAROO NUUS - Die VGK in Lotusville, Aberdeen se Sondagskoolpersoneel is bekend vir hulle oorspronklike inisiatiewe om die gemeente se jongspan geestelik te lei.
Vroeër vanjaar is ‘n atletiekdag aangebied, op Saterdag 14 Oktober is 'n modeskou gehou en tydens Sondag 15 Oktober se Sondagskooldiens, het byna elke jongeling ‘n rol gehad om te vertolk - van die verwelkoming tot die diens tot die aansteek van kerse.
Hierdie is die tweede keer wat die modeskou aangebied word. Liam Seals is vanjaar as koning aangewys met Taygon Titus die eerste prins en Waden Dice die tweede prins. Die senior koningin is Janile Pieterse met Jade Titus as eerste prinses en Yolandré Rafferty as tweede prinses.
Die junior koningin, Jenique Jonkers, se prinsesse is Jasmine Fick (eerste prinses) en Hirese Afrika (tweede prinses).
Iris Joubert, een van die organiseerders, sê dit is vir die kerk en veral die Sondagskoolpersoneel, prioriteit om aan die jongspan in die kerk ‘n volronde geestelike opvoeding te bied.
“Ons probeer om aan die kinders te wys dat kerk en geloof nie net beteken jy moet Sondag in die kerk sit en luister nie. Binne die veiligheid van die kerkgemeente en in onse geloof kan ons ook vermaaklikheid geniet, want dit is waaroor geloof gaan - die Here is in alles teenwoordig en dit is tog die belangrikste.”
Joubert, Tamia de Vos, Nicolene Seals, Enrico Cedras en Shawn Plaatjies is die VGK se Sondagskoolpersoneel en het skouer aan skouer gewerk om vanjaar se modeskou ‘n glansryke fees te maak vir ouers en hul kinders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’