ABERDEEN NUUS - Die NG Kerk vorm die middelpunt van 'n verkeersirkel en word omring deur ses eilande; almal funksioneel in die uitleg en vloei van paaie rondom die sirkel.
Oor die jare het die toestand van die eilande agteruitgegaan.
Die afgelope week het van die inwoners ingespring met verfraaiingswerk aan een van die eilande. Voetpaadjies is uitgelê en nuwe beddings, met hoofsaaklik geharde vetplante, is aangeplant.
Die ringmuurtjies is herstel en opgeknap. Die lieflike boom en reuseklippe in die middel van die eiland bied welkome skaduwee en rusplek vir die wandelaar.
"Ons beoog om al die eilande op te knap. Die NG Kerk en die kunswerke in die kerksaal is van die bekendste besienswaardighede in die dorp, maar die eilande wat soveel potensiaal het, het te veel verweer," sê een van die organiseerders van die opknappingspan.
Die organiseerders glimlag egter net opgewonde oor wat beplan word met die ander eilande en verklap slegs dat hulle beoog om meer inwoners by die projek te betrek.
Chantal Brummer, 'n inwoner, geniet die sitplek onder die boom. Foto: Verskaf
Skoolkinders geniet daagliks die boom se skaduwee en nuut uitgelegde voetpaadjies.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'