JANSENVILLE NUUS - Groot opgewondenheid heers in Jansenville met die vooruitsig van die Angora Motocross Adventure Classic wat hierdie jaar vir die tweede keer aangebied word.
Hierdie jaar is Saterdag 7 Mei geoormerk vir hierdie geleentheid wat jaarliks veldfietswedrendeelnemers van oor die land na Jansenville lok.
Veldfietswedrenne word gedoen met motorfietse oor ‘n rowwe terrein, en met talle uitdagings in die roete ingewerk.
“Die enigste vereiste is dat jy ‘n motorfiets moet hê, en jy moet dit kan ry. Die dra van ‘n valhelm is eerste prioriteit, en deelnemers word nie daarsonder toegelaat nie,” vertel André Viviers, organiseerder van hierdie uitdaging.
“Die ouderdomsgroep van deelnemers is gemiddeld so tussen 30 en 40 jaar oud, maar persone in alle ouderdomsgroepe kan gerus kom deelneem. Hierdie jaar het ons ‘n avontuurfietsroete saamgestel, maar ons sal graag volgende jaar ‘n veldmotorfietsroete ook wil beskikbaar stel.
"Agterpaaie van 230 km vanaf Jansenville, oor Pearston, Driekopsvlei, Waterford, deur die Majestic Hills (voorheen Ibamba), oor Rafelskloof en agterom langs die Sondagsrivier terug na Jansenville word uitgemeet vir die avontuur."
Volgens hom tree IGEN hierdie jaar as hoofborg op, maar daar is natuurlik altyd ruimte vir meer borge om betrokke te raak.
"Ses en sestig motorfietse het verlede jaar deelgeneem, en daar word geglo dat daar hierdie jaar nog meer sal opdaag vir die avontuur. Dit sal ook die ideale geleentheid wees vir onderdele- en motorfietshandelaars om betrokke te raak.”
'Ons bring jou die nuutste Jansenville, Karoo nuus'