GRAAFF-REINET NUUS - "Ek is moeg - ek gaan nou." Dit was die woorde van 'n vegter, gereed vir die onbekende, wat Saterdag op 'n troosdiens vir die ontslape Pieter (Penn) Willem Koeberg aan die begrafnisgangers oorvertel is.
Penn is op Donderdag 9 September ná 'n stryd teen kanker oorlede. Hy was 55.
Verskeie aangrypende huldeblyke en staaltjies is tydens die diens, gelei deur eerwaarde Chris Nissen van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, gelewer.
Penn is op 12 Maart 1966 in Graaff-Reinet gebore, 'n "kind van die lokasie." Hy het gr. 6 en 7 aan Spandau Sekondêr geslaag en sy matriekjaar in 1985 op Uitenhage voltooi.
In 1986 word hy opgelei as telefoontegnikus, maar bedank as gevolg van die erge diskriminering van apartheid. Van 1988-1990 werk hy as verpleër by die Midlands-hospitaal in Graaff-Reinet en tussen 1991-1997 word hy National Education, Health, and Allied Workers' Union (NEHAWU) se werkplekverteenwoordiger by die Santa-hospitaal. In dieselfde jaar tree hy met Ellen Buys in die huwelik.
Sy lewensfilosofie het hy gebaseer op Mattheus 25:40:"Vir sover julle dit gedoen het aan een van My, het julle dit aan My gedoen."
Eerwaarde Chris Nissen van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (regs) bid by die grafsteen van die ontslape Penn Koeberg tydens sy begrafnis verlede Saterdag. Foto's: Neco Bokwe
Politieke loopbaan
Penn het diep spore getrap in die politiek as, onder andere, ANC-takvoorsitter en substreeksekretaris, CMC-lid en as BEC-lid.
Hy bedank as verpleër in 1997 en word van 1998-2015 ingespan as voltydse organiseerder vir NEHAWU waar hy gou naam gemaak het as 'n uitmuntende organiseerder. Hy was 'n natuurlik leier en puik mentor en het elke opgelegde taak nougeset uitgevoer. Hy was ook raadslid van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit in 2016.
Donovan Koeberg, broer van Penn, doen die openingsgebed by sy roudiens.
Familie
Penn was die gom wat sy familie geanker het. Hy was vir hulle alles in een mens saamgevat: skerp intellek, briljant, 'n drukstok en steunpilaar, subtiel en onselfsugtig, vrye denker en iemand wat onderhoudend oor die politiek kon gesels.
Een van sy gunstelingverse uit die Bybel (Johannes) het hom in sy daaglikse handel en wandel gelei: "Neem die steen weg." Penn het daarna gestreef om die steen van rassisme, korrupsie, afguns en seksisme af te breek.
Nou sit die nederige en geliefde vegter sy stryd voort in die onbekende.
Ellen (middel), weduwee van Penn Koeberg, luister aandagtig na die diens tydens sy begrafnis.
Penn Koeberg se dogter, Demi Campbell (tweede van links) lewer 'n roerende huldeblyk aan haar ontslape vader tydens sy roudiens met haar susters wat haar ondersteun. Van links is Merische, Demi, Damion en Derelle Koeberg.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'