ABERDEEN NUUS — In 'n onlangse vergadering van die Aberdeen VLV-tak is daar op Landbou en Tuinbou gefokus en ‘n verskeidenheid aspekte bespreek.
Elna van Niekerk, sameroeper van Landbou en Tuinbou, open die vergadering met gedagtes uit die Bybel en na bespreking van verskeie VLV-sake, stel Van Niekerk vir Frikkie Rossouw van Natuurbewaring in Graaff-Reinet aan die woord.
Rossouw bespreek indringerplante breedvoerig - die aard, voorkoms, beheer, negatiewe aspekte en wetgewing rondom indringerplante. Daarna deel hy ook kortliks inligting aangaande ongediertes en probleemdiere in die Oos-Kaap.
Verder deel Van Niekerk inligting oor voedselveiligheid in Suid-Afrika wat sy by Bona Mjuza, Gesondheidsinspekteur, gekry het.
Die VLV bome van die jaar (gewone soort - Geelhoutboom; skaars soort - Witgatboom) en voël van die jaar (Swarttobie - tweede skaarste voël in SA) word ook bespreek.
Laastens deel Van Niekerk idees oor wat met leë 2-liter plastiekbottels gedoen kan word.
Van die lede het ook voorbeelde saamgebring van items gemaak uit sulke bottels. Daar is nou ‘n projek in Suid-Afrika waar die leë bottels styf gestop word met skoon nie-afbreekbare afval, soos plastiek en polistireen, en dit dan as stene gebruik word om selfs huise te bou. Die projek word Ecobrics genoem en daar is ook ‘n afgeepunt in Port-Elizabeth.
Tydens die vergadering word Adelle de Jager as nuwe lid verwelkom. Estelle van Wyk en Annalize Lategan word gelukgewens met hul verjaarsdae en die wenner van die gelukkige trekking is Luise de Jager.
Laastens word die beplande Winter Vrouedag, wat op 1 Augustus 2018 sal paasvind, kortliks bespreek.
Die vergadering word afgesluit met heerlike eetgoed wat keurig op spieëls tussen pragtige blomme voorgesit is deur Suzanne Lategan en Annalie Lategan.
Luise de Jager, Annalie Lategan, Carina Esterhuizen, Gloria Penniston, Frikkie Rossouw (Natuurbewaring), Elna van Niekerk (Sameroeper Landbou en Tuinbou), Lizelle Johnson, Anchen en Anke van Schalkwyk, Suzanne Lategan, Jean Watermeyer, Lea van der Vyver en Adelle de Jager.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'