Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - "Die bicycle-gogga het gebyt, nou's dit 'n leefstyl."
Dit is te danke aan Maxwell Jaftha van Graaff-Reinet se seun, Jurlado (10), dat Maxwell se unieke fietse en klub nou in dié Karoodorp opslae maak.
"My seun het so drie jaar terug gesê dat hy graag 'n fiets wil hê, maar een wat ons self gebou het. Een wat se styl geïnspireer is deur 'n Harley-Davidson."
Maxwell het by plaaslike werktuigkundige Heinrich Davids vir raad aangeklop, en só is die Black Widow gebou. Maxwell, wat by die plaaslike munisipaliteit werk, het al vier ander fietse gebou, elk uniek en uit stukke parte van 'n skrootwerf.
Nou droom Maxwell, met die hulp van ander, dat sy stokperdjie die lewens van jongmense in sy gemeenskap sal aanraak. "Ons hoop om mense in werk te stel met hierdie projek, as dit groter word, om fietse te bou en te verkoop."
Maxwell Jaftha (middel) en 'n paar lede van die Hood Riders. Foto's: Paula-Ann Smit
Dan is naweekklub Hood Riders reeds op die been. "Ons is mos van die ghettos, so dis ons naam," spot Maxwell. Die klub is 'n platform vir enige iemand met fietse om hul ryding te waardeer en rond te ry.
"In ons area is sommige 10-jariges al op dwelms. As ons hulle betrokke kan kry om te help en deel te wees van die klub sal dit 'n verskil maak," meen Davids. Volgens hom is dit terapeuties om die fietse te bou.
Kyk 'n video hieronder.
Plaaslike inwoner Christie Stols sê hy is trots op die mans se inisiatief, en dat dit goed sal wees vir die gemeenskap om betrokke te raak.
"Ek het Maxwell eendag sien ry met die snaakse fiets, toe sê ek vir hom dié storie moet op TV kom."
Werner Marx en Marthie Steyn van die Camdeboo Spar is ook trots op die projek, en hoop dat nog baie mense betrokke sal raak. Belangstellendes kan hul name en kontakbesonderhede by Spar gaan los, of 'n e-pos stuur aan camdeboo2@retail.spar.co.
Maxwell Jaftha is lief vir unieke fietse, en hoop sy projek sal mense in sy gemeenskap betrek.
Heinrich Davids en die fiets wat hy in 2016 gebou het. Jaftha het by hom aangeklop vir raad. Heinrich Davids en die fiets wat hy in 2016 gebou het. Jaftha het by hom aangeklop vir raad. Foto's: Paula-Ann Smit
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'