GRAAFF-REINET NUUS - Mona Sais (41), 'n inwoner van Umasizakhe, Graaff-Reinet, is nog altyd lief vir skryf, maar het haar nooit aan dié talent gesteur nie. Dit was eers nadat sy vroeër vanjaar met postnatale depressie gediagnoseer is wat sy 'n kortverhaal neergepen het.
Nou droom dié ma van vyf dat haar verhaal gepubliseer sal word, of selfs die grootskerm sal haal, sodat ander ma's weet hulle is nie alleen nie.
"Ek huil baie, ek wil nie eers dorp toe gaan nie," vertel Mona terwyl haar verloofde Shelton Lottering (36) hul seun Malcolm (ses maande) sus. Dit was na Malcolm se geboorte wat Mona depressief geword het.
"Ek was nie so na een van my ander kinders se geboorte nie," verduidelik Mona met trane in haar oë. Haar oudste dogter is 20, waarna sy 'n 11-jarige dogter het, en nog twee dogters van agt en vier. "Ek het besluit dat Malcolm my laaste kind sal wees, en na sy geboorte gegaan om gesteriliseer te word."
Volgens Mona was daar tydens dié operasie komplikasies. "Ek het nie genoeg verdowing gekry nie, en moes vir die dokters sê ek is in pyn. Na die operasie het ek niks medisyne gekry nie. 'n Apteker het my later gehelp, ek kon skaars loop."
Om haar traumatiese ervaring te probeer verwerk, het Mona dit in 'n kortverhaal omskep. Al is sy rekenaar-geletterd het sy 12 A4-bladsye met die hand vol geskryf, omdat sy nie self 'n rekenaar het nie, en wou mense by 'n publieke rekenaarlokaal vermy. "Ek sukkel nog om met mense te praat."
Mona Sais (41) saam met haar geliefde seun Malcolm (ses maande). Foto's: Paula-Ann Smit
Een stuk uit die verhaal beskryf hoe Mona met Jesus gepraat het, terwyl sy onder verdowing was. "Jesus, asseblief gee my nog 'n kans sodat ek my kinders kan grootmaak. Hy het geantwoord: 'Ek kan jou nie help nie, ek moet vir my pa in die stoel vra.' My hartklop het amper tot 'n stilstand gekom, en toe God in die swewende stoel ja sê, het my toestand verbeter."
Volgense Mona was die skryf van haar verhaal soos terapie. "Dit, my verloofde, my dogter en die kerkmense dra my hierdeur. Ek bid ook baie."
Mona se droom is dat haar verhaal in 'n fliek omskep sal word, en wêreldwyd vroue bewus maak van postnatale depressie en goeie mediese sorg.
"Vrouens moet praat hieroor; hulle is nie alleen nie."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'