GRAAFF-REINET NUUS - Na 'n lang werksdag ontspan haarkapper Victor 'Vic' Verwey graag deur kos te maak.
Dít is 'n stokperdjie waarin hy al ietwat van 'n bobaas is. Sy rakke is vol kookboeke, en vriende loer gereeld in om aan een van sy disse te smul. Ons deel graag een van sy gunsteling resepte:
Beesstertbredie met preie en rooiwyn:
- 1,8 kg beesstert, in stukke gesny
- Sout en varsgemaalde swartpeper
- Olyfolie, vir braai
- 6 groot preie, goed skoongemaak en in 5 cm-stukke gesny
- 6 heel knoffelhuisies, geskil
- 15 ml komynsaad
- 5 ml gemaalde koljander
- 3 ml droë brandrissievlokkies
- 1 blik (410 g) gekapte tamaties
- 1 bottel (750 ml rooiwyn)
- Knippie suiker
- Water
- Hand vol fyngekapte pietersielie en fyngerasperde suurlemoenskil, om deur te roer
Metode
Geur die beesstert goed met sout en peper.
Verhit 'n bietjie olyfolie in 'n groot kastrol en braai die beesstert daarin bruin. Skep uit en hou eenkant. Braai nou die preie en knoffel in dieselfde kastrol tot dag.
Voeg die speserye en brandrissievlokkies by en braai tot geurig.
Skep die vleis (en enige pansouse) terug in die kastrol. Voeg die tamaties, rooiwyn en 'n knippie suiker by. Verhit tot kookpunt, verlaag die hitte en prut die beesstert stadig oor lae hitte vir 4 - 5 uur of tot baie sag.
Loer gereeld in die kastrol en vul aan met water indien nodig, die sous is geneig om maklik aan te brand. Geur na smaak en roer 'n bietjie gekapte, vars pietersielie en fyngerasperde suurlemoenskil by.
Vic se wenk
Kook met goeie rooiwyn wat jy graag ook drink. Bedien die gereg met kapokaartappels of rys (hy verkies basmati) en enige groen groente van jou keuse.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'