ABERDEEN NUUS - "As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou." Dit is die boodskap wat 'n kerk-gebou in Baconstraat, Aberdeen, woordloos en tóg luidkeels sedert 1972 reeds verkondig. Die afgelope naweek is die 50ste bestaansjaar van die United Congregational Church (UCCSA), in Aberdeen, met feesvieringe gedenk.
Die tema van die feesboodskap, gelewer deur eerw. Julian Dampies, was: "Ons moet weet waar ons vandaan kom, waar ons gister was, waar ons vandag is en waarheen ons môre op pad is."
Dampies, self 'n boorling van Aberdeen met grootouers en ouers wat diep spore in Aberdeen getrap het, is die leraar van die UCCSA St. Andrew's-gemeente in Murraysburg en het spesiaal die verrigtinge kom bywoon.
Alhoewel die gemeente meer as 128 jaar bestaan, is die spesifieke kerkgebou vanjaar 50 jaar oud. Hierdie gebou is 'n baken van hoop, deursetting en soete sukses.
Dit is 'n gebou wat opgerig is as resultaat van die geledigde bitter beker van die eertydse groepsgebiedewet. Die gemeente se eerste kerkgebou staan sedert 1894 in Meintjiesstraat, maar in die laat 1960's moes die gemeente in Lotusville hervestig.
Die trots van die gemeente (die hand-gekerfde preekstoel) moes agtergelaat word saam met die gebou. Van die statige kerkgebou in Meintjiesstraat moes daar geskuif word na 'n sinkstruktuur in Lotusville wat destyds deur die De Vos-broers opgerig is. Van vooraf moes die gemeente self plan maak om weer 'n kerk te bou.
Vindingryk het die gemeente onder andere "steenkaartjies" verkoop om geld in te samel en in 1972 is die huidige kerkgebou voltooi.
"Vandaar die feesboodskap soos gevind in die Bybel in die hoofstuk Psalm 127 oor die Here self wat bou," vertel Esme Finnis, sameroeper van die feeskomitee.
Die gedenknaweek was behoorlik gevul met feestelike aktiwiteite en allerlei aandenkings; van herdenkingsbekers tot 'n volkleur feesblad en 'n feeskoek. Saterdag se hoogtepunt was gewis die talentskou en aanwys van Mnr. en Mej. Cong.
Sondag se verrigtinge het deeglik die verlede, hede en toekoms saamgetrek. In 'n konvooi op pad na die erediens is die aangewese Mnr. en Mej. Cong per donkiekar vervoer.
Die plaaslike trompoppies, begelei deur die brigade van Murraysburg, was so hedendaags soos koordlose tegnologie. Die toekoms is bevestig met 'n boomplantseremonie waartydens een van die mees senior lidmate, Willie Jeggels (87 ) 'n olienhoutboom geplant het. Die boom is geskenk deur Dowefontein.
Phillip Finnis, wat vir 28 jaar as sekretaris van die kerkraad gedien het en tans die ondervoorsitter is, sê soos met vele ander kerke in die land, het lidmaatgetalle ook in UCCSA Aberdeen-gemeente oor die jare getaan en is die gemeente so 300 siele sterk. Die gemeente word tans deur 'n konsulent van Graaff-Reinet, eerw. H Jacobs bedien.
Die huidige kerkgebou.
Die eerste kerkgebou van 1894. Foto's: Alex Lombard
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'