HOFMEYR NUUS - Die veldwerkerspan van Hofmeyr Hugs of Hope het die afgelope week 'n besoek gebring aan die Twinsville Primêre Skool in Hofmeyr.
Die skoolhoof, Chalaine Fleurs, en haar skoolbestuurspan het die besoekers met ope arms ontvang.
"Ons het nog geen handboeke of skryfbehoeftes vanaf die Deparement van Onderwys ontvang nie," was haar eerste woorde aan die verteenwoordigers.
"Ons leerders is in klasse ingedeel en busse is gereël om leerders van regoor die wyd uitgestrekte distrik na ons skool te vervoer. Leerders is ook toegerus met uniforms en ons kosspan is elke dag druk besig om etes voor te berei, maar ons het geen boeke of toerusting wat ons kan gebruik om hierdie kinders te leer nie. Ons is so dankbaar vir elke vetkryt en liniaal, leesboek en skryfboek wat Hugs aan ons skenk, maar dit is nie naastenby genoeg om ons leerders almal te help nie. Daar is wel storieboeke in ons klasse en baie van die fasiliteerders lees vir die kinders. Daar kan darem op die swartbord ook geskryf word. Die heel klein klassies benodig dringend kryte en papier en ons vra asb vir skenkings vanuit die omgewing," sê Chalaine.
Alle donasies kan in Cradock by Cradock-begrafnisdienste afgegee word (gemerk vir Hugs). Hulle het onderneem om dit Woensdae na Hofmeyr deur te stuur.
"Moenie eers daaraan dink om nuwe kryte en potlode te gaan koop nie. Daardie skoendoos vol kort stukkies vetkryt, potlode, potloodkryte, halwe uitveërs, skerpmakers en liniale gaan hierdie leerders vinnig aan die gang kry."
Die Skoolbestuurspan van Twinsville Primêre skool het die Veldwerkspan van Hofmeyr Hugs of Hope met ope arms ontvang. Op die foto verskyn: Nombulelo Swartz, Elmarie Vorster (Hugs of Hope) , Chalaine Fleurs (Skoolhoof), Heletia Lategan, en Rochelle Faniso.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'