KAROO NUUS - Twee mediumgrootte dorpe in die Oos-Kaap, Middelburg en Burgersdorp, beleef tans ’n ernstige toename in Covid-19 positiewe gevalle.
Dit volg nadat 129 leerders by skole in Middelburg en Burgersdorp positief getoets het.
Talle leerders het nog gewag op hul uitslae ten tyde van die ter perse gaan van hierdie berig.
Tydens ’n media-inligtingsessie in Oos Londen, het die Minister van Gesondheid van die Oos Kaap, Sindiswa Gomba, meegedeel dat 98 leerders, een fasiliteerder van Burgersdorp, asook 15 lede van die gemeenskap reeds hul positiewe uitslae terug ontvang het.
“In Middelburg lyk die situasie egter as volg: 26 leerders en 25 lede van die gemeenskap het reeds positief getoets, en is in isolasie”, het die minister meegedeel.
Dit het intussen ook bekend geraak dat die Oos Kaapse Departement van Gesondheid die hulp van die Wêreld Gesondheids Organisasie ingeroep het, en dat planne in plek geplaas is om die drastiese stygende getalle te probeer beheer. Gesondheidsspanne is ingeroep om die positiewe gevalle te monitor. “Op hierdie stadium is slegs een bejaarde persoon gehospitaliseer,” het die Minister meegedeel, rakende die omstandighede in Burgersdorp.
In Middelburg word die boonste vlak van die Country Inn hotel as isolasiefasiliteit gebruik, maar inwoners deel mee dat hul bekommerd is oor die getalle wat weergegee word, aangesien daar ook talle positiewe gevalle in Midros en Kwanonzame is, wat nie deur die Minister genoem word nie.
Toets-, opvolg- en moniteringspanne is geaktiveer, meer mobiele toetssentrums is beskikbaar gestel en luidsprekerstelsel op voertuie word ook ingespan om inwoners in kennis te stel van die gevaar, veral noudat daar na vlak een beweeg is, en vrye beweging toelaatbaar is.
Hierdie skielike toename in gevalle volg nadat 98% van alle fasiliteerders en 84,5% van alle leerders reeds teruggekeer het skool toe.
Die gemeenskap van Burgersdorp is ook bekommerd oor die situasie, aangesien talle leerders vanuit die Molteno- en Steynsburggemeenskappe reis, op ’n daaglikse basis, om skool by te woon in Burgersdorp.
Die Joe Gcabi Distriksmunisipaliteit deel met kommer mee dat 84% van alle gevalle in hul distriksmunispaliteit op hierdie stadium in Burgersdorp is, met 52% gevalle in Aliwal Noord. Tydens ’n vergadering op 18 September, is daar meegedeel dat positiewe matriekleerders na Aliwal Noord oorgeplaas sal word, waar hulle in afsondering gehou sal word sodat hul daar hul rekord-eksamen kan voltooi.
Addisionele gesondheidspanne vanaf die Elundini en Senqu Munisipaliteite word ook voorlopig oorgeplaas na Burgersdorp om te help met monitering van die situasie, en die naspeur van persone wat kontak gehad het met positiewe leerders en gesinne.
Streng Covid-19 beheer-regulasies word reeds die afgelope ses maande toegepas by die hospitaal in Burgersdorp, waar geen voertuie toegelaat word op die terrein nie, en moniteringsspanne diens doen by die ingang na die hospitaal.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'