KAROO NUUS - 'n Plaaslike geliefde en bekende egpaar, Tommie (84) en Emma (85) Roux van Hofmeyr, se gemoedsrus is verlede week 'n lelike slag toegedien. Die Rouxs woon skuins oorkant die sekuriteits-hoofkantoor in Moltenostraat, maar na twee inbrake is hulle sin van sekuriteit tot in die fondamente geskud.
Nadat hulle verlede Woensdagmiddag, 22 Februarie, van hul middagslapie opgestaan het, het Emma vir hulle gaan koffie maak.
"My kombuisdeur was oop, en ek was by toe Tommie dit na ete gesluit en die sleutel gebêre het, maar ons yskas was dolleeg gesteel," vertel Emma.
Dit blyk dat die inbrekers, wat oor die agterheining geklouter het, 'n gaatjie in die veiligheidshek se sif gemaak het en met 'n draad die sleutel van die hakie waar dit hang, afgehak het.
Hul kon die veiligheidshek so van buite oopsluit.
"Ek het dadelik ons twee seuns, Piet en Ettienne, wat buite die dorp boer, geskakel, en hulle het by die sekuriteitskantore gaan kyk of hulle iemand op die kamera's kon sien.
"Die drie 'besoekers' is egter op die sekuriteitskamera in die pastorie opgemerk, en Ettienne het hulle opgespoor."
Ettienne is die egpaar se jongste seun.
Weer 'n keer
Maar steeds was dit het einde niet. Die volgende oggend het selfs groter ontsteltenis die egpaar ingewag. Tommie het vroegoggend Donderdag, 23 November, buitentoe gestap en gesien dat hul buitekamers oopstaan.
"My pa gee graag self soggens die katte kos, en hy hou die buitekamers gesluit, want die katte se kos word daar gebêre, saam met alles wat vir my pa kosbaar is. Sy tuingereedskap, ook sy eie gereedskap, want hy maak self nog alles reg as iets in die huis breek," vertel Ettienne.
Tommie vertel die buitekamers is in die vroeë oggendure leeggedra. "Hulle het wraggies alles gevat.
"Gelukkig kon ek dadelik weer ons seuns bel. Hulle het weer ingery om ons te kom help. Ai, ons is so dankbaar dat ons kinders altyd bereid is om te kom help. Dis net 'n genade."
Ettienne sê ook dié vermeende inbrekers is in samewerking met Hofmeyr SAPD opgespoor. "Hofmeyr polisie het die persone arresteer en hul verklarings afgeneem."
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'