GRAAFF-REINET NUUS — Huis Cronjé, die koshuis van Hoër Volkskool in Graaff-Reinet, spog tans met puik geriewe.
Met die verkiesing van 'n nuwe komitee vir dié koshuis 'n paar jaar gelede, is die koshuis se geriewe stelselmatig begin opgradeer.
Onder die leiding van voorsitter Christelle Nel, het die komitee slegs een doel voor oë gehad: om dié koshuis werklik 'n tuiste weg van die huis vir die leerders te maak.
Vandag, ses jaar later, kan daar met trots en dankbaarheid met 'n pragtige koshuis gespog word.
Die hele koshuis - binne en buite - is uitgeverf, klerekaste is vervang aan die seunskant en herstel aan die meisies se kant, die Graad 12-leerders se badkamers is oorgedoen, die groot seunsbadkamer is oorgedoen, in die eetsaal is daar 'n hoofleiers-bord aangebring, voor die koshuis is 'n netjiese palisadeheining opgerig, die hele koshuis se matrasse, asook van die beddens, is vervang en die koshuis het 'n vlag gekry wat daagliks gehys word.
Iets waarop die koshuisbestuur en -leerders baie trots is, is die koshuis se amptelike Koshuislied. Die woorde hiervan is geskryf deur die koshuis se 2015 hoofmeisie, Lizelle Nel.
Die afgelope vyf jaar - met Tokkels Lombard as organiseerder - bied die koshuis ook elke jaar 'n baie suksesvolle springbokjagkompetisie aan - die fondse geïn hierdeur word aangewend vir die instandhouding van die koshuis se geriewe.
Aan die einde van 2017 het een van die uittredende lede van die koshuiskomitee, Lea van der Vyver, in samewerking met Annalie Lategan, die area voor die koshuis verfraai met die bou van 'n pragtige spuitfontein waarby die kinders nou lekker kan ontspan.
Net nadat Christelle Nel se termyn verstryk het, het sy die pragtige nuwe naambord en wapen laat aanbring voor die koshuis as afskeidsgeskenk.
Die skool en koshuiskomitee is baie trots op wat hulle die laaste paar jaar vermag het en glo hulle dat die koshuis 'n heerlike tuiste weg van hul ouerhuis vir elkeen van sy inwoners is.
Die superintendentspaar van die koshuis, is tans Hennie en Amanda van Rooyen, onderskeidelik die skoolhoof en 'n leerkrag by Hoër Volkskool.
'n Gesellige hoekie in die meisies se koshuisgedeelte.
Die voorportaal van die seuns se gedeelte van die koshuis is ook verfraai.
Leerders verbonde aan Huis Cronjé staan trots met die koshuis se vlag.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'