HOFMEYR NUUS - Daar was vir baie jare slegs groente en vrugte vanaf groot verskaffers in die kleinhandelaarswinkeltjies in Hofmeyr beskikbaar.
Hofmeyr Hugs of Hope het sowat vier jaar gelede hierdie probleem raakgesien en begin om tuiniers te bemagtig. Hierdie tuiniers boer organies en maak nie gebruik van enige hormone of gifstowwe in hul tuine nie.
"Aanvanklik het ek saailinge deur Hugs of Hope ontvang, maar ek produseer nou onafhanklik van hulle. Ek voorsien hoofsaaklik kool, pampoen, tamaties en spinasie aan die handelaars,” deel Roelf Steyn vanaf sy hoewe, Rus-'n-bietjie, buite Hofmeyr mee.
Hoewel die Twinsville-woonbuurt ernstige waterprobleme ondervind, is daar ook verskeie verskaffers van groente.
"Ek gebruik slegs grys water om groente te produseer," sê Flippie Prins, selfonderhoudende tuinier van 708 Twinsville.
"Ek het 'n waentjie met fietswiele gemaak en daarmee gaan haal ek vroeg soggens water vir my huishouding. Ons gebruik die water om te drink, skottelgoed te was en te bad. Vroegaand word die kleingoed gebad, en daarna bad ek en my vrou in dieselfde water.
"Voor vyfuur soggens kry ek die wasmasjien aan die gang, en dan word hier wasgoed gewas, met dieselfde water wat ons oornag in die bad bewaar het. Die afloop vanaf die wasmasjien word na my groentetuin herlei.
"Ek is gelukkig om 'n afset vir my groente te hê en ek lewer aan twee plaaslike spazawinkels. Tans oes ons kool, blaarslaai, radyse en beet. My wortels sal ek eersdaags kan oes. My vrugtebome is ook oortrek met vye, perskes, druiwe en ons het 'n goeie appelkoosoes afgehaal."
Drie appelkartonne met ryp tamaties uit die groentetuin van Edward Elias.
By die nuwe woonbuurt, 208, ontwikkel Edward Elias en sy vrou, Priscilla Mrasi groente van skougehalte. Hul dertigjarige seun werk ook by hulle in die tuin. "Ons is elke dag in die tuin. Dis ons enigste werk en ons enigste salaris," deel Priscilla mee.
"Ek het vir jare op 'n plaas gewerk en daar het ek geleer om 'n groentetuin te ontwikkel in 'n baie klein spasie," vertel Edward waar hy midde sy 400m² tuintjie staan. "Ons kon Woensdag ses appelkartonne vol tamaties oes en ons sien ook uit daarna om binnekort eiervrugte te begin oes.
Daar hang 8 tot 12 eiervrugte aan elke stoel. Ek voorsien aan die twee algemene handelaars op die dorp en my buurman help my met sy bakkie om die groente by die winkels af te lewer.
"Ons het regdeur Desember aarbeie gelewer en ons het ook beet en knoffel in ons tuin. Die wortels gaan nog 'n tydjie vat, maar ons kan al groen pampoene oes. Hier is genoeg pampoene om vir 'n geruime tyd te kan lewer aan die afsetpunte. Ek sal ook eersdaags skorsies kan begin pluk.
"Ek gebruik net saad, en sit nie saailinge in nie. Ek maak my eie saailinge, want ek is geleer om dit te doen. Ek gebruik net varkmis as bemesting."
Op navraag aan Edward of sy tamaties te koop is, was sy antwoord dat hy slegs aan die besighede lewer.
In Hofmeyr bedryf Barend Opperman die ontwikkelingstuin van Hofmeyr Hugs of Hope en hy oes ook reeds op groot skaal en lewer aan plaaslike inwoners, asook aan Hugs of Hope. Hul verwerk ook die oormaat om later te gebruik.
Terwyl die skoon wasgoed vrolik op die draad wapper, word die groentetuine natgelei met die afloopwater vanaf die wasmasjien. Die hergebruik van grys water maak ‘n groot impak op tuinerye in gebiede waar waterskaarsste aan die orde van die dag is.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'