BURGERSDORP NUUS - Die tuinbouklub van Burgersdorp het hul Kersafsluiting die week by die plaaslike gholfklub gehou. Dit was 'n oggend vol Kersfees-inspirasie.
"Ons is 'n gawe klomp vroue vol splinternuwe idees bymekaar," vertel Lydia de Villiers. "Vyftig vroue het die geleentheid bygewoon, en tafels is buite gedek sodat ons vir 'n slag heerlik kon saamkuier."
Hulle het die tema, Herwin-Oorwin, vir 2020 gebruik, en hierdie jaar het hulle voluit herwin, en oorwin. As gaste by die geleentheid het Annari Oosthuysen, The travelling Karoo Artist, besoek afgelê, en daar was ook plante van Kwa-Majuba-kwekery te koop. Pragtige juweliersware was ook te koop.
"Tydens 'n vergadering vroeër vanjaar het ons sakke aan lede uitgegee en hulle versoek om kaste leeg te maak vir skenkings aan Hofmeyr Hugs of Hope, na aanleiding van ons tema, Herwin-Oorwin, en ons lede het nie teleurgestel nie," vertel die klub.
Talle skenkings en donasies is ingesamel, en hoewel die bestuur van Hofmeyr Hugs of Hope nie die geleentheid kon bywoon nie, is die volle donasie aan hul deurgegee die volgende dag.
"Ongelukkig het die datum vir Hofmeyr Hugs of Hope saamgeval met hul jaarlikse inspeksie as 'n nie-winsgewende organisasie," berig Teresa Opperman, bestuurder van die instansie.
Die nuwe bestuur vir 2021 is ook bekendgestel, en is as volg: Magdelie Henning, Ansone Jacobs, Elana Smit, Lydia de Villiers, Elsie Oosthuizen en Marissa Marx. Hulle is gereed om Burgersdorp-tuinbouklub tot nuwe hoogtes aan te spoor.
'Ons bring jou die nuutste Burgersdorp, Karoo nuus'