Gallery
ABERDEEN NUUS - Die Aberdeen-rugbyklub het op 31 Maart self ingespring en die skouterrein, hulle tuisveld, begin opknap.
Die terrein en al die geboue op die perseel, is munisipale eiendom en huisves die enigste bruikbare sportveld met 'n pawiljoen in die dorp.
FOTOGALERY: Aberdeen-rugbyklub word opgeknap
'n Besoek aan die terrein laat egter die indruk dat verwaarlosing, vernielsug en vandalisme moontlik die grootste plaaslike sport is.
Die terrein se munisipale water- en elektrisiteitstoevoer is lank reeds afgesny en die gebou wat kleedkamers behoort te bied, is net 'n leë dop. Van die geboue is sonder dakke. "Absoluut niks by die terrein word deur die munisipaliteit in stand gehou nie," sê Nico Vywers, voorsitter van die rugbyklub. "Selfs die ingangsbeheergeboutjie het al onder vandale deurgeloop."
Vywers sê die klub het aansoek gedoen om die perseel by die munisipaliteit te huur. Raadslede Nathan Jacobs en Adriaan van Heerden bevestig dat die aansoek ontvang is, maar sê dat nog geen terugvoer van die munisipaliteit gekry is nie.
Vywers, Van Heerden en 'n klubbestuurslid, Marius Frazenburg, sê twee geskeduleerde vergaderings met die munisipale bestuur is telkens uitgestel.
"Ons kry dit net nie reg om die munisipale bestuur 'n vergadering te laat bywoon nie!" sê Vywers. "Dis hoekom ons nou maar self inspring en werk met wat ons het. Ons het reeds die dakplate van een van die oop geboue afgehaal om te gebruik vir dakke waar plate kort. Ruite moet ook vervang word, maar die grootste nood nou is toilette. Hier is letterlik niks."
Frazenburg sê die stand van sake is vernederend. "Weet jy hoe voel dit om vir besoekers te verduidelik hulle moet maar self water en die nodige bring en dan maar bossies toe loop?"
Maar die klublede laat hulle nie onderkry nie. "Hierdie is wat tot ons beskikking is. Ons kry skaam dat ons so moet sukkel, maar ons het nou self begin opknap en vra elke lid van die gemeenskap om ons te help met wat hulle kan. Intussen bedank ons almal wat reeds ondersteuning en middele aangebied het," sê Vywers.
Waar 'n wil is, is 'n weg. Foto's: Nico Vywers
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’