KAROO NUUS - Suid-Afrikaanse vuurwapeneienaars en veral dié in Graaff-Reinet en die Groter Karoo kan nou 'n sug van verligting slaak ná die aankondiging dat die Wysigingswetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens vir eers teruggehou is.
Dit volg na uitgebreide openbare protes toe tienduisende Suid-Afrikaners hul misnoeë met dié ondeurdagte en onuitvoerbare plan te kenne gegee het.
Die wetsontwerp het ten doel om Suid-Afrikaners die reg te ontsê om vuurwapens vir selfverdediging te registreer.
Jacques Geyer van Broomsticks in Graaff-Reinet het aan Graaff-Reinet Advertiser gesê dié terughouding van die wetsontwerp is 'n triomf wat op die doeltreffendheid van openbare druk dui.
"Druk werk. Duisende Suid-Afrikaners het hul menings bekendgemaak en feitegebaseerde argumente is op só 'n manier op minister Bheki Cele se tafel geplaas dat dit nie geïgnoreer kon word nie. Om hierdie rede is die aksie gestaak wat mense wil ontwapen wat hulself net wil verdedig."
Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het 'n omvattende veldtog gevoer as deel van die druk teen die FCA.
In Junie het die IRV se bewysgebaseerde verslag deur Nicholas Lorimer, Don't Add Chaos To Disorder, die swakhede van argumente blootgelê wat daarop gemik is om wetsgehoorsame burgerlikes te ontwapen.
'n Maand later is die verslag se legitimiteit deur die Julie-onluste bevestig. Suid-Afrikaners kan getuig van die hopelose vlakke van polisieonbevoegdheid, en burgers - van Durban tot Graaff-Reinet - se dringende behoefte om hulself in die afwesigheid van polisiebeskerming te verdedig. Meer as 20 000 Suid-Afrikaners het deur die IRV se portaal petisies teen die nuwe wetsontwerp van die Vuurwapenbeheerwet ingedien.
Hierdie petisie is aan die burgerlike sekretariaat van die polisie - die liggaam wat verantwoordelik is vir die indiening van die ondeurdagte wetsontwerp - gestuur.
In die lig van openbare druk blyk die sekretariaat onseker te wees oor hoe die wetsontwerp vorentoe gedryf moet word.
Gabriel Crouse van die IRV sê die stryd is nie verby nie.
"Buiten om pogings om jou lewe met 'n geweer te verdedig, te kriminaliseer, is daar baie probleme met die wetsontwerp. Die oomblik wat die regering probeer om weer onwettige vuurwapenwette in te stel wat chaos by wanorde voeg, sal ons gereed staan om, in die naam van vryheid, druk op hulle uit te oefen."
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'