CRADOCK NUUS – Hennie Olivier, ‘n voormalige skoolhoof van die Hoër Landbouskool Marlow in Cradock, is dié week oorlede.
'n Verklaring is gistermiddag, Maandag, 25 Junie, deur die skool uitgereik. Dit lees as volg:
“Dit was met skok en leedwese dat die Marlow-skoolgemeenskap verneem het van die afsterwe van die gewese skoolhoof, Hennie Olivier.
Olivier was van geboorte af 'n Wolram in murg en been.
Geen ander persoon kan sê dat hy op Marlow gebore is en ook afgetree het nie. Hy is op 4 Maart 1949 op die plaas Driefontein, naby die skool, gebore.
Sy pa was toe die skoolraadsekretaris op Marlow. Op 7-jarige ouderdom is hy vir die eerste keer skool toe in die plaasskool op Marlow, vandag bekend die die Kleinskooltjie, Marlow se gastehuis.
Na st. 4 het die Oliviers na Boland Landbouskool verhuis en in st. 7 trek hulle na Oudtshoorn waar Olivier matriek geslaag het. Daarna studeer hy aan die Oudtshoorn Onderwyskollege vir vier jaar. Hy het sy onderwysloopbaan by Otto du Plessis begin, daarna is hul Colesberg toe en toe Aberdeen toe.
In 1972 trou hy met Andeline en hul is met twee kinders, Derik (Marlow se huidige sportorganiseerder) en Ammi geseën. En toe lei sy lewenspad hom terug na Marlow, eers as adjunkhoof en toe as skoolhoof vanaf 1994.
Vir amper 30 jaar waaronder 20 jaar as skoolhoof, het Olivier sy alles vir Marlow gegee. Sy voetspore lê diep op Marlow en sy vingerafdrukke is oral sigbaar. Duisende oudskoliere, ouers en onderwysers sal hom altyd onthou. Die skoolhoof, personeel en leerlinge dink in hierdie tyd aan sy familie en wens hul sterkte toe.”
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'