GRAAFF-REINET NUUS - Om matriek met lof te slaag, is nie kinderspeletjies nie. Tog bly dit enige leerder se droom.
Dit is dus glad nie verbasend dat Hoër Volkskool se topmatrikulant, Zenke Enslin, in die wolke is oor die uitsonderlike prestasie wat sy behaal het nie.
Die Engelse uitdrukking "this young lady is going places," is sekerlik op haar van toepassing.
Zenke is Vrydag 19 Januarie tydens die Premier's Top Achievers Awards as die topstudent in die Sarah Baartman-distrik aagewys.
Maar dit eindig nie daar nie. Die skool is ook as die top presterende skool in dié distrik aangewys.
Henriëtte Malan, waarnemende hoof, het die toekenning met trots by dié spoggeleentheid in Oos-Londen in ontvangs geneem.
Zenke het 7 A's behaal en 'n indrukwekkende gemiddelde van 88,9% bereik. Hiervoor het sy 'n studiebeurs ontvang.
Fisioterapie aan die Universiteit van Kaapstad vorm deel van haar toekomsplanne, maar sy is vasbeslote om haar langtermyn doelwit, mediese studies, te verwesenlik.
Haar geheim vir sukses is goeie tydsbestuur gedurende eksamens en harde werk dwarsdeur die jaar.
"Die geleentheid om my eie persoonlikheid te ontwikkel en nuwe vaardighede aan te leer, was vir my die hoogtepunt van my hoërskoolloopbaan. Dit het my toegerus vir die toekoms en 'n soliede fondasie vir my verdere studies gelê," sê sy.
Zenke is die dogter van Riaan en Erna Enslin. Riaan is 'n oudskolier van Volkskool.
"Ek is baie trots op myself oor wat ek bereik het, verál omdat ek dit nooit verwag het nie. Dit is werklik 'n groot voorreg om die toekenning te ontvang en ek is baie dankbaar daarvoor."
Malan sê hulle is ongelooflik trots op Zenke se prestasie.
"Sy het deurgaans hard gewerk en altyd net haar beste gelewer. Dit is lekker om te sien dat al haar harde werk vrugte afgewerp het. Sy het 'n blink toekoms voor haar.
"Die skool pluk die vrugte danksy 'n dinamiese personeel wat bestaan uit 'n goeie mengsel van jong en ervare personeel met 'n samewerkende gees wat oorspoel na ons klasse. 'n Skool waar almal bereid is om meer te doen as wat van hulle verwag word."
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’