MIDDELBURG NUUS - Vir Middelburgers was Rialize Hayes sinoniem met die Middelburg Karoo Toerismekantoor, of te wel die GROOT “i” van die Inligtingskantoor.
Na 19 jaar moes die Toerismebestuur verlede week afskeid neem van haar tydens ‘n smaaklike ontbyt by Celtis Country Lodge se restaurant. Riana Southey het almal verwelkom waarna Annelie van der Ryst ‘n paar staaltjies en waarhede rondom Rialize vertel het.
Rialize het daagliks Middelburg bemark aan kliënte wat die kantoor besoek het asook telefoniese navrae en e-posse aangaande bedrywighede en akkommodasie in die dorp en omgewing hanteer.
Middelburg se kalender is jaarliks opgestel en sy het gesorg dat funksies en byeenkomste nie oorvleuel nie, sy het dan ook seker gemaak dat al die besighede die jaarprogram ontvang en dit uitgedeel waar nodig. Rialize het vir baie jare gesorg dat die dorp en skole se nuus aan die koerante deurgegee word.
Sy het al die buskaartjie verkope hanteer, wat dan ook vir die kantoor ‘n redelike wins ingebring het. Sy het die Middelburg Toerisme webblad op datum gehou, ‘n Facebook-blad bly hanteer, toerisme vergaderings se notules en agendas opgestel en dan gesorg vir ‘n datum wat al die lede pas.
Die biblioteek in Midros is ook gereeld deur haar van inligting voorsien om skoolkinders met take te help. Middelburg se eie Kunstefees is ook grootliks deur Rialize gereël!
Die Toerisme-vereniging, inwoners en toeriste sal haar hulp en insette verseker baie mis, maar gun haar ook die nuwe uitdagings wat vir haar voorlê wanneer sy 1 Julie by Karel Theron aansluit as nuwe sekretaresse van die skool.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'