GRAAFF-REINET NUUS — Die Karoo word toenemend gesog as ‘n fassinerende en opwindende toerismebestemming.
Menige reisiger en besoeker wil die wye oop ruimtes verken en die magdom dorpe in hierdie uitgestrekte en gevarieerde gebied besoek.
Die rede hiervoor is voor die hand liggend. Die Karoo bied soveel moontlikhede - nie alleen vir toeriste nie, maar ook vir diegende wat ‘n eiendom van hul eie wil hê waarheen hulle kan wegbreek om te ontspan, maar wat ook vir hulle ‘n stabiele bron van inkomste kan bied, sê Wayne Rubidge, Pam Golding Properties se gebiedsbestuurder vir die Karoo.
“Baie mense is gretig om die rustige platteland te ervaar in ‘n poging om van die spanning en gedruis van die besige stadslewe weg te vlug. Die Karoo bied verskeidenheid met karaktervolle dorpies en wisselende landskappe om elke individuele voorkeur te pas.
“Hiermee saam, in die lig van ekonomiese beperkinge, floreer plaaslike toerisme. Suid-Afrikaners wat bewus is van koste, besoek eerder bestemmings wat maklik bereikbaar is, sonder om grense oor te steek of oorsee te reis. Dit maak die aankoop van eiendom wat in die vraag na toerisme of akkommodasie kan voorsien, baie aanloklik vir diegene wat hulle permanent in die platteland wil vestig.
“Met die uitbreiding van koordlose ADSL diensverskaffers, het baie dorpe nou vinniger internetverbindings. Dit word toenemend balangrik en is tot voordeel van sakeondernemings en diegene wat oor ‘n afstand werk.”
Rubidge wys daarop dat die Karoo oor vier provinsies strek. Dit sluit die Vrystaat en al drie Kaapprovinsies in. Die sentrale ligging veroorsaak dat alle padgebruikers wat van Noord na Suid reis, deur die Karoo moet gaan. Vanweë die afstande is die moontlikheid groot dat hulle in een die Karoo se talle dorpe sal oorslaap.
Die gebied kan vanaf al die hoofsentra maklik bereid word deur vyf nasionale paaie. Die N1-snelweg loop deur die Karoo en sluit by ander nasionale roets aan. Die gebied is maklik bereikbaar vanaf lughawens soos George langs die Tuinroete, Port Elizabeth in die Oos-Kaap en Kaapstad in die Wes-Kaap. Afgesien van die N1, is ander gewilde toegangsroetes die N10 vir besoekers aan die Karoo Midlande via Cradock, die N6 - wat deur Queenstown loop - vir die Oostelike Karoo, die N9 na George via Graaff-Reinet en die N12 vanaf Kimberley na Beaufort-Wes.
Weens die ligging en volgehoue belangstelling om die Karoo te verken, het gasteondernemings met die loop van tyd ‘n gewilde belegging geword. Van die mees gesogte bestemmings sluit dorpe soos Prins Albert, Graaff-Reinet en Cradock in. Daar is vele ander wat elk hul eie unieke aantrekkingskrag het. Dit sluit drie Nasionale Parke in.
Mooi klein dorpies soos Rhodes, Nieu-Bethesda en Loxton is spesiale bestemmings wat net so gewild is soos die groter dorpe. Die verskeidenheid in aantrekkingskrag en aktiwiteite wat die Karoo bied, is belangrik vir besoekers. Dit sluit avontuurbestemmings langs die Oranjerivier en twee van Suid-Afrika se grootste damme, die Gariep en Vanderkloofdam in.
Rubidge sê: “Ons ervaar dat baie besoekers aan die Karoo vooraf via die internet hul soektog na eiendom doen en dan na ‘n spesifieke dorp gaan met die voorneme om ‘n eiendom te koop vir ‘n belegging of as vakansiebestemming. Daar is nou toenemend ‘n tendens dat kopers ‘n eiendom soek om na die platteland te verhuis en die Karoo is ‘n gunsteling.
“Ander besoekers reis na die Karoo vir ‘n vakansie of vir ‘n spesifike geleentheid en raak verlief op ‘n gebied of ‘n dorp en besluit dan om die eiendomsbeleggingsmoontlikhede te ondersoek. Normaalweg sal hierdie kopers nie onmiddellik koop nie. Hulle sal met ‘n internetsoektog begin en dan die gebied weer besoek om na verskillende eiendomme te kyk. Hierdie proses kan tot ses maande duur vanaf die eerste besoek of selfs nog langer tot die volgende vakansieseisoen.
“Weens die wye verskeidenheid dorpe in die Karoo, toon mense uiteenlopende belangstellings in alle soorte eiendomme, maar die gewildste is eiendomme met historiese waarde wat in die klassieke Karoo-styl gebou is – ‘n groter huis in die Victoriaanse styl of ‘n eenvoudige platdak Karoo kothuis. Waar kopers permanent wil verhuis vir die leefstyl, is ‘n gastehuis of ‘n sakegeleentheid dikwels ‘n versoek. Pryse wissel beduidend en hang meestal van die grootte van die dorp af en die geriewe soos ‘n skool.
“Elke dorp het ‘n eie unieke kultuur en aanbiedinge vir besoekers of reisigers wat vanuit al die uithoeke van Suid-Afrkia hier by mekaar kom of deur die gebied reis. Kopers in die boonste marksegment is meestal suksesvolle sakelui of families wat van die groter metropoolgebiede kom. ‘n Belangrike rede om te belê is vir ‘n leefstylverandering. Hulle ervaar ook dat ‘n gastehuis of gasvryheidsonderneming ‘n uitstekende manier is om betrokke te bly en om mense van alle vlakke van die samelewing, wat die Karoo besoek, te ontmoet.”
In Graaff-Reinet, ‘n aktiewe dorp vol toeriste en besoekers, is die bekende historiese Drostdy Hotel onlangs opgeknap en oorgedoen. Nie ver van die Drostdy af nie en te koop deur Pam Golding Properties, is ‘n luukse 4-ster gastehuis met agt lugverkoelde en-suite kamers, ‘n swembad en private parkering in ‘n gesogte gebied binne stapafstand van restaurante en winkels. Die eiendom het luukse afwerkings. Dit was winsgewend en is vir R6.5 miljoen as ‘n lopende saak verkoop.
In die nabygeleë Cradock, ‘n aktiewe plaaslike sentrum langs die Visrivier-besproeiingskema, is ‘n klassieke karakterhuis met 3-ster gradering en sewe gastekamers. Die ligging is ideaal langs die N10. Die eiendom is ‘n bed-en-ontbytonderneming wat uitstekende opbrengs lewer. Hier is ‘n geleentheid om ‘n groot huis met tuine op ‘n erf van 4 564 vierkante meter te bekom. Aan die hoofhuis is daar ‘n aparte gebou met nog drie slaapkamers en vyf kantore, wat tans op ‘n semi-permanente basis verhuur word. Die voorsiening van water uit die leiwatervoorreg wat aan hierdie eiendom gekoppel is, stel die koper in staat om met gemak sy of haar eie groente te verbou. Verdere uitbreiding van gastegeriewe is ook ‘n moontlikheid. Hierdie goed gevestigde, winsgewende sakegeleentheid is in die market vir R6.5miljoen.
Rubidge voeg by dat meer bekostigbare beleggingsgeleenthede in Aberdeen gevind kan word, ‘n kleiner gemeenskap slegs 50km van Graaff-Reinet af. Dit bied uitstekende waarde in die laer prysklasse. Onlangs was die prys van ‘n opgeknapte Victoriaanse huis van 600 vierkante meter en met hoë plafonne, stewige Oregon vloere en sewe slaapkamers slegs R1.45miljoen.
“Die grootste verskil tussen die kleiner dorpe in vergelyking met groter dorpe soos Cradock en Graaff-Reinet, is dat hulle minder toeriste trek en dat die gemiddelde huisprys laer is.”
Kontak Wayne Rubidge van Pam Golding Properties Karoo by 049 892 3495 of 082 432 9364 of epos wayne.rubidge@pamgolding.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'