HOFMEYR NUUS - Nadat Hofmeyr die week onder woedende protesteerders deurgeloop het, het verteenwoordigers van die Enoch Mgijima-Munisipaliteit van Komani en ander rolspelers eergistermiddag, Woensdag 22 Februarie, met inwoners in die stadsaal in Hofmeyr vergader.
Enoch Mgijima-munisipaliteit se areabestuurder Misimbithi Ntloko en raadslede Mhlangabezi Mangcotywa (tegniese dienste) en Unathi Galada (begroting en finansies) het na die gemeenskap se griewe kom luister. Wyk 34 se raadslid, Buti Quqa, het nie die vergadering bygewoon nie.
Die skakelbeampte van die Hofmeyr Community Development Forum, Londozwa Ntetha, sê die vergadering het goed afgeloop en daar is onderneem dat alle dienste vandag hervat.
“Onwettige stortingsterreine sal skoongemaak word en straatligte sal van Maandag herstel word. ‘n Padskraper sal ook gebring word om slaggate en grondpaaie reg te maak. Beloftes oor ‘n vullisverwyderingstelsel is gemaak, asook dat watertenke opgerig sal word wat die munisipaliteit sal vul.”
Die munisipaliteit sal glo ‘n resolusie opstel waarvolgens Hofmeyr toestemming sal ontvang om by Inxuba Yethemba-munisipaliteit in te skakel, soos op ‘n vorige vergadering besluit is, aldus Ntetha.
Voel oorbodig
Die klein gemeenskap van Hofmeyr voel reeds jare “oorbodig” en munisipaliteite met groot skuldlaste wil verstaanbaar nie nog verantwoordelikheid vir dié gemeenskappie ook aanvaar nie. Al Hofmeyr se munisipale toerusting is destyds na Komani geneem toe Tsolwana beheer oor die dorp geneem het.
Munisipaliteit spring in na protes in Hofmeyr
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'