GRAAFF-REINET NUUS - Belowende reënwolke het saamgepak Donderdag, 18 Januarie, net soos op 18 Januarie 1902 met die teregstelling van Gideon Scheepers.
Bellangstellendes uit die gemeenskap en ‘n groep leerders van Hoër Volkskool het by die herdenkingsgeleentheid van hierdie besondere militêre leier se lewe stil geword.
Die skriflesing uit Psalm 91 deur Ds Johan van Vuuren het mooi aangesluit by die waardige geleentheid.
Die ATKV Volksmond Jeugtak (Hoër Volkskool) het, in samewerking met Paul van den Berg, die verrigtinge by die monument gereël.
Linda Lötter het ‘n gedig voorgelees wat drie dae voor sy dood deur Gideon Scheepers geskryf is.
Sy laaste brief aan sy moeder, uit die Graaff-Reinet Gevangenis, is deur Justin Gafoor voorgelees.
Die bogenoemde voorlesings, deur lede van die Volksmond Jeugtak, het die menslikheid van die skrywer verwoord.
‘n Paar interessante staaltjies uit Gideon Scheepers se lewe tydens die Anglo Boere-oorlog is deur Magda Van Heerden vertel.
Die monument is vanjaar veertig jaar gelede opgerig.
Dit is in 1978, honderd jaar na Gideon Scheepers se geboorte, onthul.
Paul van den Berg en Theo Dörfling, wat hierdie jaar se verrigtinge bygewoon het, was bevoorreg om ook die onthulling van die monument destyds te kon bywoon.
Met die druppels wat sag begin val het, het die wat teenwoordig was met ‘n warm gevoel in die hart hierdie baken in ons land se geskiedenis verlaat.
Bellangstellendes uit die gemeenskap en ‘n groep leerders van Hoër Volkskool het 'n herdenkingsgeleentheid van 'n besondere militêre leier, Gideon Scheepers, verlede Donderdag bygewoon.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'