CRADOCK NUUS - Cradock Voorbereidingskool was op 25 Januarie vanjaar 'n volle 80 jaar oud. Die skool is in 1943 gestig en hulle beplan om die mylpaal op 16 September vanjaar te herdenk.
Die skool, destyds in Neastedstraat, is aanvanklik vir leerders van Sub A tot St. 2 gebou en huisves deesdae kinders van gr. 1 tot gr. 3, met die leuse "Ons bes".
Me. SD Rawson is aanvanklik as eerste waarnemende hoof aangewys en me. MI Keevy is in Julie 1943 as die eerste permanente hoof aangestel en het die pos beklee tot einde 1967.
Keevy is opgevolg deur me. AF Gouws van Januarie 1968 tot Junie 1973.
In 1974 skakel die st. 2-leerders in by Cradock Primêr nadat me. Estelle Nel in Junie 1973 as skoolhoof oorgeneem het.
Nel was skoolhoof tot einde 1978 toe sy 'n dosent by die destydse Universiteit van Port Elizabeth (nou NMU) geword het.
Mnr. JB Joubert is op 1 April 1979 as eerste manlike skoolhoof aangestel en vul die pos vir 28 jaar tot November 2007. In Julie 1991 skuif die skool na die geboue van die destydse handelskool in Ziervogelstraat.
Die skoolkoshuis is na Joubert vernoem en 'n gedenktuin is ter ere van hom aangelê.
Op 1 Oktober 2008 word me. Elmar Heese die nuwe skoolhoof.
Talle veranderings is die afgelope 15 jaar aangebring en Heese bedank die beheerraad vir hul kosbare insette onder die voorsitterskap van mnr. Elandré Marais.
Alle oudleerders en -personeel van die skool word genooi om in September saam die 80ste vieringe by te woon.
Kontak 048 881 3277 of prep@cradock.co.za vir inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’