CRADOCK NUUS - Carien Nel, dogter van Celia du Plessis, neem graag die leiding wanneer daar groot geleenthede by die Elizabeth Jordaan-tehuis gehou word, maar dis nie haar enigste talent nie.
"Ek geniet dit om die tehuis in 'n tuiste te verander deur pragtige skilderye en kunsstukke, asook borduurstukke teen die mure te hang. Ek skuif graag die meubels rond om gesellige hoekies te skep.
"Ek stal ook oudhede op die tafels uit wat deur inwoners en hul families geskenk word. Dit moet vir elkeen van ons inwoners 'n tuiste wees," vertel sy.
Nel het 'n besondere voorliefde vir oudhede en snuisterye, en gooi nie maklik iets weg nie. Daarom geniet sy hierdie uitdagings so.
Met die Moedersdagete het sy die eetsaal by die tehuis se tafels versier.
"Ek het altesaam 15 tafels se tafel-versierings beplan en ons het dit Saterdag gereed gekry. Ek het gebruik gemaak van die voetstukke van bedlampies, waarvan die elektriese koord met 'n outydse serp bedek is. Elke bedlamp het 'n hoed gekry.
"Hierdie hoede is vir my baie kosbaar. My oumagrootjies, oumas, my ma en ekself het hierdie hoede by spesiale geleenthede gedra. Die wit hoed was 'n skenking vanaf 'n donateur in Graaff-Reinet, sy het die hoed na haar troue gedra. Ek het my eie servette gebruik wat by die onderskeie kleurskemas gepas het."
'n Warmete is bedien, met 'n geurige sosatie met 'n wortelgarnering as voorgereg, asook twee vleise met rys, gebakte aartappels, 'n warm brokkoligereg en pampoen. As nagereg het die heerlike sjokolade bruintjies alles goed afgerond.
"Die inwoners by die tehuis is gewoonlik baie opgewonde voor so 'n geleentheid, omdat hul weet daar is iets om na uit te sien. Dit gee my groot innerlike vreugde om te weet ek kan dit vir hulle doen, en aangesien my ma ook 'n inwoner is, is dit vir my des te meer kosbaar, " sê sy.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'