Gallery
MIDDELBURG NUUS - Die studente van die Grootfontein Landboukollege - tesame met verskeie Middelburg-inwoners - het Maandag, 30 Oktober, om 13:00 by die dorp se N9-ingang vanaf Noupoort in swart geklee bymekaar gekom.
Die hoofpad was afgesper en sodoende moes alle verkeer deur die dorp beweeg.
Verbygangers het hul toeters gedruk en vriendelik die groep ondersteuners van die landwye ‘Swart Maandag’-protesaksies begroet.
Die optog, wat vooraf met die plaaslike owerhede gereël is, het vreedsaam plaasgevind en ’n duidelike stempel is op die publiek afgedruk terwyl die konvooi van bakkies, motorfietse, motorvoertuie en selfs swaar voertuie wat ook by die konvooi aangesluit het, deur Meintjiesstaat beweeg het.
Slagspreke op plakkate soos “Staan Saam”, “Hou moed” en “Genoeg is Genoeg” was duidelike tekens van die jeug en inwoners se misnoeë met die huidige omstandighede in die land.
Toe die eerste voertuig by die Kliphuis Koffiekan in die middel van die dorp aangekom het, het die laaste voertuig van die konvooi eers die dorp ingery.
Die verrigtinge is met ‘n gebed afgesluit.
‘n Tweede optog is ook later die middag na die kruis op die koppie buite Middelburg gehou.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'