JEFFREYSBAAI NUUS - Twee beweerde perlemoenstropers is tussen gisteraand, Vrydag 26 Januarie en vanoggend, Saterdag 27 Januarie, in hegtenis geneem ná sowat 174 perlemoen gekonfiskeer is.
Die arrestasie volg ná sowat 30 stropers langs die kus opgemerk is. 'n Taakspan, bestaande uit die Jeffreysbaai-polisie, Seevisserye, Kouga-munisipaliteit se wetstoepassing, die veediefstaleenheid en Paradysstrand-buurtwag, is geaktivieer.
Tydens die operasie is lede van Kouga se perlemoen-taakspan, bygestaan deur National Vehicle Information Cloud (Navic) en 'n ondersoek geloods in die gebiede waar perlemoenstropery voorkom. Tydens volmaan is daar gewoonlik meer aktiwiteit.
Seevisserye was gereed met 'n rubberboot om stropers in diepsee te verras.
'n Hoë sigbaarheidsbenadering is aanvanklik gebruik om verdagte voertuie wat deur die gebied beweeg, te monitor.
Volgens Jeffreysbaai-polisie se kaptein, Dominique Doubell, van die Sigbare Polisiëringseenheid (Vispol) is daar tydens die ondersoek sowat 30 stropers opgemerk, en seevisserye kon inbeweeg en twee stropers is suksesvol in hegtenis geneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’