KAROO NUUS - Vanuit Molteno kom hier ’n wonderlike storie wat ons met hoop en opgewondenheid in alle dorpe vir Kersfees vervul. Plaaslike inwoners Roddy en Tracy vertel van hul nuut geregistreerde herstelsentrum vir troeteldiere. Enige dorp sal baat uit so ’n inisiatief.
"Ons wil alle diereliefhebbers in kennis stel dat die Stormberg-herstelsentrum as 'n NPO geregistreer is," vertel Roddy Meyer van Molteno.
"Ek en my lewensmaat Tracy McKenna is diereliefhebbers, en ons sien al geruime tyd om na rondloperhonde, op die oomblik besoek 40 honde ons perseel op ‘n daaglikse basis vir kos."
Stormberg-herstelsentrum se doel is om soveel moontlik rondloperdiere uit die strate van Molteno en omliggende gemeenskappe te hou, en om ook te keer dat hulle na nabygeleë plase ronddwaal, waar hulle geskiet en in slagysters gevang kan word, as daar gesien word dat hulle skape vang. Hulle probeer ook reeds om siek, hawelose en beseerde diere te help om te herstel en om gereelde voerstasies op te rig.
“Ons hoop om in samewerking met staatsveeartsenydienste te werk, wat reeds hul volle betrokkenheid beloof het. Hulle sal ons dorp meer gereeld besoek en sterilisasieveldtogte van stapel stuur om ongewenste teling te voorkom.
"Stormberg-herstelsentrum beplan om die gemeenskap op te voed oor die regte manier om hul diere te versorg. Hulle beplan om programme uit te voer en beplan ook besoeke aan skole en ander plekke waar groepbyeenkomste gehou word.
“Ons wil graag hê dat die hele gemeenskap betrokke moet raak.”
Skenk katkorrels en hondekos, en lewer alle oorskiet voedsel, vleis en suiwelprodukte aan die sentrum. Ander sentrums het groot suksesse met kosskenkings wat hul van elke huishouding vra. Sit 'n leë plastiese inkopiesak in jou yskas, en gooi daagliks daarin al die oorskietkos op borde na etes. Skraap dit van die bord en hou dit bevrore. Sodra die sak vol is, kan so 'n sak aan die diereversorgingsentrum geskenk word.
Basiese mediese benodigdhede is 'n noodsaaklikheid, en enige skenking met betrekking tot ontwurmingstablette, bosluisbehandelings en pro-biotika sal waardeer word.
“Ons doen 'n beroep op die gemeenskappe van Molteno en omliggende gebiede om aktief betrokke te raak by die Stormberg Herstelsentrum, veral nou gedurende die Kerstyd, wanneer baie diere ly terwyl hul gesinne pret het, en hul verantwoordelikhede vergeet.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'