GRAAFF-REINET NUUS - Inwoners van Graaff-Reinet was Woensdag behoorlik in die wolke toe hulle hoor dat geen beurtkrag vir dié dag ingestel word nie - alhoewel hierdie pasella nie sonder 'n prys en tandekners gekom het nie.
Graaff-Reinetters was Dinsdagoggend baie verbaas toe die elektrisiteit om 11:30 net nie weer na beurtkrag aangekom het nie - fase 6-beurtkrag was van 07:00 tot 11:30 geskeduleer.
Kort na inwoners begin wonder het wanneer hulle dan nou uiteindelik die ketel kan aansit, het 'n kennisgewing op die Dr Beyer Naudé-munisipaliteit se Facebook-blad verskyn, "Currently, there is no electricity supply in Graaff- Reinet due to an Eskom problem, they have been notified."
Hierdie situasie het vele uitdagings vir besigheidseienaars ingehou en vertel 'n eienaar dat hy Dinsdagaand nie sy na-uurse dienste kon lewer nie en ook nie sy fabriek en winkel se alarmstelsel kon aanskakel nie - omdat daar net nie genoeg tyd was vir die batterye van die stelsels om te laai nie.
"Ek speel vandag 'catch-up' en hardloop behoorlik heen en weer," het hy Woensdagoggend aan die Advertiser gesê.
Nog 'n inwoner, wat gebruik maak van tegnologie om met sy kliënte te kommunikeer, vertel dat dit groot konsternasie veroorsaak het toe hy nie 'n e-pos kon stuur of 'n selfoonoproep kon maak nie.
'n Ander inwoner het uit desperaatheid by 'n gastehuis met sonpanele gaan sit om haar aanlynwerk klaar te maak. "As jy Dinsdag sonpanele of 'n kragopwekker vol petrol gehad het, het jy die dag gewen," vertel sy.
Die kragonderbreking het ontstaan omdat 'n deiningdemper (surge arrestor) by Hangklip beskadig is toe elektrisiteit weer om 11:30 aangeskakel is na beurtkrag.
Verder was inwoners later die dag baie mismoedig toe Eskom aankondig dat die elektrisiteitstoevoer eers Woensdagoggend om 07:00 herstel sou wees, maar geluk op die ongeluk kon hulle darem 'n nuwe eenheid bekom om die beskadigde een te vervang.
Inwoners het behoorlik hande geklap toe die krag Dinsdag om 20:30 uiteindelik aangekom het.
Die munisipaliteit was toe reeds besig om met Eskom te onderhandel om Graaff-Reinet Woensdag van beurtkrag te vrywaar.
Benjamin Arends, direkteur van infrastruktuur by die munisipaliteit, het aan die Advertiser vertel dat die reservoirs wat drinkwater aan die dorp voorsien gelukkig nie leeggeloop het nie.
Beurtkrag is weer gisteraand, 10 Mei, om 23:00 geïmplementeer. Eskom het Fase 6-beurtkrag verklaar tot verdere kennisgewing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’