GRAAFF-REINET NUUS - Inwoners van Graaff-Reinet kan die week begin stem om dié mooie Karoodorp, Kwêla se Dorp van die Jaar te maak.
Indien die dorp wen sal dit die tweede keer wees wat Graaff-Reinet die gesogte titel dra.
Graaff-Reinet is in 2010 as Suid-Afrika se dorp van die jaar aangewys toe Rapport en Kwêla dit vir die eerste keer saam aangebied het.
Dié kompetisie word vanjaar vir die 12de keer in samewerking met lekkeslaap.co.za en Kia gehou.
Die uitdaging
Kim von Behr Imrie, van die Graaff-Reinet-toerismekantoor, Chantelle Marais van Karoo Park-gastehuis en Christie Stolz, 'n inwoner, is reeds druk besig om die inwoners te motiveer om te stem.
Marais het die week aan Graaff-Reinet Advertiser gesê dat hulle graag besighede en skole ook wil aanmoedig om deel te neem.
"Ons het 'n Local Challenge begin waar besighede en skole mekaar kan uitdaag om te stem. Ons wil dit ook soveel pret as moontlik maak. Ek gaan byvoorbeeld R200 se stemme instuur en dan daag ek op Facebook die volgende besigheid uit om dit te ook te doen, of dalk selfs meer stemme as my besigheid te stuur. Die besighede en skole kan dan mekaar aanhits om soveel moontlik stemme in te stuur. Mense kan selfies neem en dit op Facebook sit, of hulle kan snaaks aantrek, dit maak regtig nie saak nie. Ons wil net mense motiveer om te stem. Ons wil graag weer daardie prys wen," het sy gesê.
Volgens haar kan die uitdagings op Graaff-Reinet Magazine of Graaff-Reinet Buy and Sell se Facebook-blaaie gedoen word.
Die burgemeester sê
Die burgemeester van die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit, Ewald Loock, is ewe opgewonde dat sy dorp weer in aanmerking gekom het vir Dorp van die Jaar.
"Om van die kompetisie 'n sukses te maak verg spanwerk. Daar word reeds hard agter die skerms gewerk om van die jaar se poging 'n sukses te maak."
Volgens hom is Graaff-Reinet 'n besonderse Karoodorp en word hy nie verniet beskryf as die juweel van die Karoo nie.
"Dit is 'n historiese dorp met pragtige ou geboue wat met groot sorg en ywer bewaar word. Ook die baie historiese woonbuurt, Umasizakhe, is 'n belewenis om te ervaar. Die Robert Sobukwe-museum word ook binnekort hier geopen en is 'n baie belangrike toevoeging tot die bestaande museums. Wanneer belangrike name soos Rorbert Sobukwe, dr. Beyers Naudé en Anton Rupert opduik is dit reeds 'n aanduiding dat die dorp besonderse mense het."
Volgens Loock is die mense van die dorp, wat almal tot die sukses en dorpseenheid bydra, oorgenoeg rede om te stem.
"Ek wil families en vriende van ons mooie dorp opkommandeer om vir ons eie juweel te stem. Net julle kan ons Dorp van die Jaar maak. Hoe wonderlik sal dit wees om die blink wennerslint om die nek van hierdie natuurbaken te sien blink nie? Kom help en ondersteun ons om ons historiese dorp met sy moderne gemeenskappe die wenners te maak vir 'n tweede keer."
So stem jy
Die stemme open op 25 April en eindig op 29 April om 12:00. SMS die woord Graaff-Reinet na 33157. SMS'e kos R1,50.
Kwêla sal op 24 April om 18:00 'n insetsel van Graaff-Reinet op hulle program hê en inwoners behoort ook dan te kan sien teen watter dorpe hulle meeding.
Die dorp met die meeste stemme word as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys en wen 'n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal 'n 45 sekonde advertensie oor die dorp maak wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word.
Daar sal ook 'n groot Kia Dorp van die Jaar-makietie in die wendorp gehou word met musiek, kos en hope pret vir die inwoners.
Foto's: Nicola Woods
Foto's: Nicola Woods
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'