CRADOCK NUUS - Daar was verlede week 'n behoorlike gewoel en gewerskaf om pienk uitrustings in Cradock aan te skaf vir die staptog deur die dorp se vroue om mense van kanker bewus te maak.
Só vertel Laura Adams van die Cradock-kankersorg. Sy is bygestaan deur Marelize Michau, wat die inskrywings hanteer het.
Graaff-Reinet Advertiser-korrespondent, Teresa Opperman, sê sy het in 'n winkel gestaan en gehoor hoe 'n vrou vertel dat sy haar ligpienk trourok gaan opsny sodat sy en haar dogter identiese uitrustings vir die staptog het.
"Altesaam 120 stappers het ingeskryf. Daar was ook heelwat kinders en jongmense wat die dag in die natuur deurgebring het," vertel Adams.
Lizelle Bekker, een van die stappers, sê dit was 'n groot bederf om 'n slag uit die gewoel te kom en tussen die pekanneutbome te stap.
Deelnemers kon tussen twee afstande kies: 'n 5 km en 10 km-stap. Die roete het begin by Moo se Lekker-padstal langs die N10 buite Cradock en deur die pekanneutplantasies rondom die padstal gekronkel.
Die stappers kon weglê aan die ontbytbagels en kolwyntjies en diegene wat kanker oorwin het, het 'n spesiale verrassingspakkie gekry.
Adams sê die Cradock-kankersorg samel op gereelde basis fondse in vir die versorging van kankerpasiënte. "Ons is so dankbaar teenoor elke inwoner van Cradock wat altyd met 'n oop hand en oop hart gee wanneer daar kollektelyste die rondte doen. "
Verskil van Kansa
Cradock-kankersorg verskil van Kansa in die opsig dat Kansa se fondse alles vir navorsing gebruik word en nie tot voordeel van huidige kankerlyers en pasiënte in sorg van Cradock-kankersorg is nie.
Die nood is groot en selfs deur die pandemie moes Cradock-kankersorg behulpsaam wees met die voorsiening van suurstof aan talle pasiënte in Cradock en omgewing."
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'