GRAAFF-REINET NUUS — Die Gereformeerde Kerk in Graaff-Reinet wil op Saterdag, 11 November, 'n uitstalling hou van plaaslike inwoners se versamelgoed.
Lesers wat 'n paar goedjies het waarin ander dalk belang kan stel word genooi om met die organiseerders te skakel om die uitstalling daarvan te reël - daar is geen kostes daaraan verbonde nie.
Daar is reeds 30 versamelings bevestig en word ander versamelaars gevra om gerus in te skryf vir dié skou.
"Ons is tans op soek na plaaslike versamelaars wat daarin belang sal stel om hul goedere uit te stal en sal graag soveel as moontlik versamelings van inwoners ten toon wil stel. So, as u miskien 'n versameling teelepels of 'dinky toys' of iets soortgelyks het, laat weet ons asseblief, " meen 'n woordvoerder vir die kerk.
Dié skou sal in die twee sale by die Botaniese Sportgronde van 08:00 tot 15:00 gehou word.
Tydens die skou sal daar ook 'n rits klassieke en vintage motorvoertuie op die rugbyveld te siene wees. Diegene wat hul voertuie deel van dié uistalling wil maak word gevra om met die organiseerders in verbinding te tree - die uitstalling daarvan is gratis.
Daar sal terselftertyd ook 'n kattebakverkoping in die parkeerarea aan die agterkant van Botanies plaasvind terwyl kosstalletjies deur verskillende kerke vanuit Graaff-Reinet en omgewing beman sal word.
'n Pret speelterrein sal die kleintjies deur die loop van die dag vermaak.
Toegang tot die kattebakverkoping is gratis terwyl 'n fooi van R30 per persoon gehef sal word vir diegene wat deur die res van die terrein wil beweeg om die uitstallings te aanskou.
Kontak gerus 082 336 5983 of stuur 'n e-pos aan kantoor@gkgraaff-reinet.co.za om meer hieromtrent uit te vind.
Inwoners word genooi om 'n stalletjie te bespreek vir hul kattebakverkoping teen R50 per staanplek.
Prysgeld van R8 000 (eerste plek), R3 000 (tweede plek) en R1 000 (derde plek) is op die spel vir die beste versameling.
Daar is ook kontantpryse in die verskillende afdelings by die uitstalling van die klassieke en vintage voertuie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'