Video
HOFMEYR NUUS EN VIDEO - Negentien manne het verlede week oor twee dae, in hul oudste voertuie, die Hofmeyr Ou Karre-sirkelroete van 300 km afgelê. Die roete is deur Johan Vermaak beplan en daar was net twee vereistes: geen vroue mag saamry nie en die voertuig moes ouer as 20 jaar wees.
Die hardebaarde het Woensdag 19 April die pad gevat en plek-plek het dit hulle bykans drie ure geneem om net 45 km af te lê.
Op die eerste dag het hulle via die R391 oor Maraiskrans teen Groot Doornhoekpas opgery tot by die plaas Suurfontein vir 'n piekniek.
Toe is hulle vort op die Molteno-pad. Die oudste voertuie was 'n 1958- Chevrolet Apache 'Pienkie' van Naas Vermaak en 'n 1962-Chevrolet Biscayne 'Ou Groenes' van Shaun Vermaak. Naas en sy vier susters is gereeld skool toe gery in hierdie twee statige dames.
Teen laatmiddag het die span by Rooipoort aangekom waar hulle oornag het. Maar die nag was kort, want die kuier was lank. Na ontbyt is die 60 km oor die Roosterfonteinpad na Steynsburg aangedurf.
Dié pragtige grondpad gaan letterlik oor berge en dale, maar dis net daar waar groot moeilikheid toe kom. Die kombi se ratkas het begin lol, maar Charles Jordaan het presies geweet hoe om oor sinkplaatpad die probleem te hanteer. Die Mercedes van Johan Vermaak - die jongste voertuig op die rit - wou later net luier en nie meer loop nie, en is toe ten einde laaste ingesleep Burgersdorp toe. Pienkie hak toe vas in trurat, maar daar was genoeg hulp om dié probleem uit te sorteer.
Roelf Opperman se Nomad se agterdeur het aanhoudend oopgespring, maar sy navigator, Danie van Zyl, het gelukkig ervaring en kon dié deur met tou aan die rathefboom vasmaak.
Teen Donderdagaand was almal veilig tuis, net baie vuil en vol olie en stof.
Pienkie het summier gebreek toe sy die skuur sien waar sy vir jare gestoor is.
Sy sal beslis meer moet rondry - net soos baie van die manne wat die rit meegemaak het.
VERSKAFDE VIDEO:
Die roete oor Roosterfontein het pragtige natuurtonele opgelewer.
'n Boer maak 'n plan!
Van voor is Pienkes, Brommer en Simon Jansen (jr) se Ford F250 dubbelkajuit, al die pad van Noord Dakota af ingevoer. Foto's: Johan Vermaak
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’