GRAAFF-REINET NUUS - Personeel en leerders van Graaff-Reinet Primêr het 'n huldebyk opgedra vir Andrew Minnies, 'n geliefde oud-onderwyser van die skool wat onlangs gesterf het.
Volgens 'n verklaring van die skool het Minnies in 1984 by Graaff-Reinet Primêr begin skoolhou, tot met sy aftrede in 2018.
"Skoolhou was sy groot liefde en hy het selfs na sy aftrede nog gereeld die skool besoek, ten aanskoue van almal se groot glimlagte, te bly om hom te sien," het die skool se boodksap gelees.
Dit voeg by dat Minnies nie pretensies gehad het nie, en was 'n toegewyde, saggeaarde mens, wat nooit die kwaad in ander raakgesien het nie. "Kinders het gereeld hul probleme by hom afgelaai, want hy het altyd 'n oor gehad wat luister. Hy het die kinders op haal naam geken en was geliefd by die leerders, gemeenskap en sy kollegas.
Oud-skoliere beskryf hom as 'n legende, steunpilaar en staatmaker."
Minnies het ook op die sportveld 'n groot impak gemaak, as 'n uitstekende rugby- en atletiekafrigter vir baie jare. Vele van die skool se sportsterre is deur sy nederige karakter geinspireer.
"Ons eer sy voetspore en nalatenskap. Hy sal met liefde onthou word as kollega, vriend en kosbare lid van ons gemeenskap."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'