GRAAFF-REINET NUUS - Verskeie sprinkaanswerms is reeds aangemeld rondom Graaff Reinet terwyl swerms ook in die Conway- asook in die Wapadsberg-omgewing gesien is.
"’n Sprinkaanswerm van 3 400 sprinkane vreet dieselfde hoeveelheid weiding op per dag as 'n 50 kg skaap. Onthou egter dan ook, sprinkaanswerms leef vir 72 dae en eet vir die volle 72 dae as hulle nie vernietig word nie," aldus sprinkaanbeamptes wat 'n studie gemaak het van die insek se lewensduur.
"In die voetgangerstadium oorleef sprinkane vir 12 dae en dis in dié stadium waar voorsorg getref moet word voor hulle begin vlieg."
Sodra sprinkane begin vlieg, raak dit al hoe moeiliker om hulle te bestuur, want swerms oornag in klipkoppies wat onbegaanbaar is vir voertuie.
Daar is ook nie meer sprinkaanspuitvliegtuie beskikbaar nie. In die laat 1960's was dit in algemene gebruik en in 1968 het ‘n sprinkaanvliegtuig neergestort op die plaas, Fonteintjie, in die Hofmeyr-distrik. Deesdae word spanne per bakkie aangery met gif en spuite.
"Daar moet onthou word dat sprinkane aktief is terwyl die dae nog warm genoeg is. Eiers broei nie uit as die temperatuur snags tot onder 5 grade daal nie. Sprinkaaneiers kan vir tot 17 jaar oorleef in die grond en genoeg reën en hitte laat die eiers uitbroei. ‘n Sprinkaanwyfie lê 48 eiers op ‘n slag en kan in haar leeftyd van 72 dae altesame 360 eiers lê," sê die beamptes.
"Navorsing toon egter ook dat sprinkane nie net nadelig is nie, aangesien die ontlasting en dooie sprinkane baie goeie bemesting is. Veld en weiding wat deur sprinkane vernietig is, herstel gou na goeie reën. Dit raak egter nou laat om betyds reën te kry en goeie groei te bewerkstellig voor die winterkoue alles tot stilstand dwing," sê boere van die Hofmeyr-omgewing.
'n Swerm sprinkane in die Suurberge tussen Middelburg en Graaff-Reinet toon die omvang van die plaag wat dele van die Karoo teister. Foto: Charles Jordaan
'n Treffende foto deur ‘n plaaseienaar wys ook dat jakkalse graag sprinkane eet.Die vorige ernstige sprinkaanplae is aangeteken deur die departement van natuurbewaring gedurende November 2012 tot April 2013 in die area rondom Middelburg in die Oos-Kaap.
Sprinkaanbeheerbeampte Christoff Vermeulen sê sy hele department is op ‘n gereedheidsgrondslag. "Enige verslae van sprinkane in ons omgewing kan deurgegee word aan my by 072 417 1065."
Vermeulen sê hy is bewus van sprinkaanswerms wat tans beheer word in die omgewing van Graaff-Reinet.
Die persoon wat in Graaff-Reinet en omstreke in beheer is van sprinkaanbestryding, Philip Kemp, kan gekontak word by 082 970 3599 indien daar bestrydingspanne nodig is. Kemp was ongelukkig nie beskikbaar vir ‘n telefoniese onderhoud nie, aangesien hy in beheer was van bestrydingspanne in die Wapadsberg-omgewing.
Sprinkane vernietig alles wat voorkom in die Wapadsbergomgewing tussen Cradock en Graaff-Reinet. Foto: Van der Ahee Coetzee
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'