MIDDELBURG NUUS - "Op hierdie stadium word swerms voetgangersprinkane in die Middelburg-distrik beheer, ons is egter bevrees as die swerms wat so aktief is in die Noord-Kaap, hierheen vlieg," sê Christoff Vermeulen, sprinkaanbeheerbeampte. Vermeulen is ook bewus van sprinkaanswerms wat tans beheer word in die omgewing van Jansenville.
"Opleiding is gegee aan sprinkaanbeamptes in alle boereverenigings en subdistrikte in die Oos-Kaap, en beamptes is toegerus om enige tyd 'n bedreiging hok te slaan."
Vermeulen sê die eerste swerm voetgangersprinkane verlede Maandag reeds gespuit en suksesvol beheer is.
"Beamptes is egter ongelukkig aangesien die departement van landbou reeds sedert November agterstallig is met uitbetaling van onkostes wat beamptes aangegaan het om swerms in Oktober en November te beheer."
"Ons staar 'n krisis in die gesig as hierdie mense weier om op te tree omdat hul nie vergoed word vir hul brandstof, en die gebruik van hul eie voertuie nie. Elke beampte het op eie koste, of op die koste van hul onderskeie boereverenigings, die opleiding in Middelburg bygewoon, want ons kan nie onopgeleide mense met die gevaarlike gifstowwe laat werk nie."
"My hele department is egter op 'n gereedheidsgrondslag en enige verslae van sprinkane in ons omgewing kan deurgegee word aan my, Christoff Vermeulen by 072 417 1065."
Die persoon wat in Graaff-Reinet en omstreke in beheer is van sprinkaanbestryding is Philip Kemp. Hy kan by 082 970 3599 gekontak word indien daar bestrydingspanne benodig word in die omgewing.
Kemp was nie beskikbaar vir 'n onderhoud nie, aangesien hy in beheer was van bestrydingsspanne in die Jansenville-distrik.
Die departement van landbou op Cradock, wat verantwoordelik is vir die betaling van beamptes, kon nie telefonies bereik word nie.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'