GRAAFF-REINET NUUS - Die erge vlaag sprinkane wat Graaff-Reinet vandeesweek ná die goeie reën getref het, is volgens Philip Kemp, die sprinkaanbeampte van die distrik, redelik binne beheer.
Kemp sê hy het tans sewe spanne met 14 spuiters aan diens om die plaag sprinkane te bestry.
Die grootste bedreiging is in die Camdeboo met kleiner groepe sprinkane oral in die distrik aanwesig. Hulle spuit al soggens van 04:00 af en dan in die laatmiddag tot ongeveer 19:30 se kant.
In die distrikte van Hanover, Richmond, De Aar en Middelburg is die plaag verwoestend, sê Kemp, maar Graaff-Reinet is genadiglik nie so toegepak met die swerms nie. Op plekke soos Pearston en Murraysburg is dit doodstil.
"Op die oog af lyk dit erg in die distrik, maar ons kan die swerms redelik maklik bereik om te bespuit."Kemp sê hulle het genoeg spuitstof vir die plaagbestyding, maar hulle sukkel maar met verouderde spuittroerusting. Hul voertuie is ook blootgestel aan ruwe terrein op seker plekke en kort-kort moet hy herstelwerk doen."
In die Camdeboo Nasionale Park is daar drie groot swerms sprinkane wat groot skade aan die weiding veroorsaak. "Hulle verslind ales wat groen is."
Sanparke het glo 'n beleid om nie plaagdoders in die park te gebruik nie uit vrees dat dit die wild, soos bokke en voëls, sal vergiftig. Kemp sê hy vind dit vreemd, want hulle gebruik maar 2,5 liter gifstof op een hektaar.
"'n Bok sal minstens 25 kg op een dag moet vreet voordat die gifstof enige uitwerking sal hê. Geen bok vreet so baie op 'n dag nie."
Dié swerm sprinkane vlieg in 'n bruin wolk verby Graaff-Reinet.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'