CRADOCK NUUS - Cradock was die afgelope week 'n miernes van bedrywigheide. Alle gastehuise was vol-bespreek en restaurantpersoneel het omtrent bontgestaan.
Van 30 Maart tot 4 April het Hoër Landbouskool Marlow hul 30ste Santam o.13 Rugbyfees aangebied waaraan spanne van 30 skole deelgeneem het.
Spanne is in verskeie lokale by Marlow gehuisves en daar was deurgaans wedstryde op al drie die velde. Ongeveer 'n duisend mense het op die Marlow-perseel tuisgegaan.
Daar is rugby in alle erns gespeel, maar heerlik ontspan ook - van kleilatgooi en binnebandry op die rivier, tot heerlike kos en kunstenaarsvermaak in die feestent - 'n volwaardige fees.
Alle wedstryde op die Willie Meyer- en Kaiavelde is regstreeks op die SuperSport Schools toep uitgesaai en die kommentators was twee van Marlow se eie, Stoney en Lowie Steenkamp.
'n Groot klomp belowende spelers in verskeie spanne het gewys wat in hulle steek en nadat die Karoo-weerlig die dag effens vertraag het, het Laerskool Outeniqua se A-span van George in 'n naelbyt-eindstryd vir Eversdal oorrompel met 12 - 3 en is die Outies vir die derde keer in 'n ry as die wenners aangewys.
Netbalfees
Laerskool Cradock het ook oor dieselfde tydperk hul jaarlikse o.13 Netbalfees aangebied, en 20 skole het na Cradock gereis waar spelers in koshuise gehuisves is.
Die fees is puik ondersteun en oor die naweek van 1 en 2 April kon mense ook stalletjies by die fees beman.
Die pawiljoen op Marlow sit kant-en-wal met o.13-rugbyspelers.
Twintig skole het aan Laerskool Cradock se netbalfees deelgeneem. Foto: Morné Muller
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’