STEYNSBURG NUUS - Die Steynsburggemeenskap het hierdie jaar hande gevat en gesorg dat die inwoners by Marais Steynhuis 'n feestelike kersfees kon hê.
"Talle inwoners bly elke jaar agter in die tehuis, en dis vir hierdie mense wat ons hierdie jaar 'n wonderlike Kersfeesdag gereël het," deel Marinda Coetzee, bestuurder van die tehuis mee.
"Ons beheerraad het die briljante idee gehad om tydens die Kerssangdiens in die NG Kerk 'n pragtige kersboom te versier met Kersfeesklappers. Binne elke klapper was daar 'n naam van een van ons tehuis se inwoners, wat geen ander heenkome sou hê vir Kersdag nie. Ons het ook inwoners wat nooit enige kontak met hul families het nie. Kerkgangers kon self besluit of hul 'n kersgeskenk wou borg en kon 'n klapper trek."
Louisa en Mariska Traut
"Ongelooflike opgewondenheid het geheers toe die reuse Kersboom in die groot sitkamer staangemaak is, maar ongekende ongeloof en opgewondenheid het ontstaan toe geskenke een-vir-een onder die boom geplaas word na aflewering sedert 5 Desember tot 24 Desember. Inwoners het daagliks rapporteer wie se geskenke daardie dag arriveer het."
Martha Labuschsgne, Pieter Steyn en Ian CoetzeeVroeg oggend op 25 Desember het die inwoners na die Kersboodskap kom luister in die lokaal, en daarna is Kersgeskenke uitgedeel.
"Ek kan eerlik sê dat ek nog nooit vantevore so 'n wonderlike Kersfeesverrassing by Marais Steynhuis beleef het nie. Ek het 'n wonderlike kersgeskenk ontvang," deel Ray Walker, inwoner, mee.
Na hierdie geleentheid het Marais Steyn huis 'n groot middagete aan inwoners bedien, by pragtig gedekte tafels en groot vreugde het geheers. Winnie Haarhoff was in beheer van voorbereidings!!
Geskenke was pragtig verpak en duidelik gemerk met aflewering by die Marais Steynhuis.
Corien Steyn
'Ons bring jou die nuutste Steynsburg, Karoo nuus'