REDAKTEURSKOLOM DEUR MARIETTE BURGER - Ek het die pas afgelope week net mooi weereens besef hoe gevaarlik sosiale media kan wees.
Sosiale media is 'n magtige, hoewel soms misleidende medium waar ongefundeerde feite só dikwels as waarheid weergegee en versprei word.
Daarenteen streef die administreerders van meeste Facebookblaaie nie juis daarna om die feite van plasings te verifieer of the modereer voordat dit op hul blaaie toegelaat word nie. Daar is wel geloofwaardige Facebookblaaie wat feite nagaan, maar dis die uitsondering.
Die afgelope week het dit omtrent op plaaslike Facebook-blaaie en op WhatsApp gegons oor Graaff-Reinet se watersituasie.
Gerugte van besmette water is as feitlike inskrywings wyd en syd gedeel, honderde het daarop kommentaar gelewer en paniek is deur die hele dorp gesaai.
Erkende media, soos die Graaff-Reinet Advertiser, moet in terme van die Audi Alteram partem-reël en ingevolge die perskode, alle partye 'n billike kans op kommentaar gee en moet ondergeskik aan mediawetgewing berig.
En alhoewel koerante dikwels en maklik van sensasie beskuldig word, kan ek daarvan getuig dat ons 'n klag, aantyging of gerug deeglik ondersoek en gepaste kommentaar van almal betrokke versoek, voor ons iets daaromtrent publiseer - hetsy in ons gedrukte koerant, of op ons webwerf of Facebook-blad.
Sosiale mediaplatforms is 'n vlietende medium, binnekort is dié voorval vergete.
Ek wens egter van harte dat mense wil besef dat dit oor die algemeen baie onverantwoordelik is om ongeverifiëerde gerugte lukraak op Facebook te versprei en te deel.
Dit saai paniek en dit veroorsaak dat mense stellings maak op sosiale media wat hulle in groot moeilikheid kan laat beland.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'