GRAAFF-REINET NUUS - Die Graaff-Reinet polisie vermoed dat die Sonstraalkleuterskool in Santaville, Graaff-Reinet wat Saterdag, 23 Januarie in puin gelê is, doelbewus aan die brand gesteek is.
Volgens polisiewoordvoerder, Kaptein Bradley Rawlinson het 'n ooggetuie 'n groep kinders in die agtertuin van die kleuterskool sien speel en kort daarna het die brand uitgebreek.
"Die hele gebou het gou in vlamme opgegaan en heeltemal afgebrand. Ons ondervra die ooggetuie en sal enige ander inligting wat die publiek kan verskaf verwelkom.
"Kontak asseblief vir Kaptein Mpanza by 049 807 6600 of Crime Stop by 08600 10111. 'n Klag van brandstigting word ondersoek."
Die brand is Saterdagmiddag kort na 14:00 by die Graaff-Reinet brandweer aangemeld. Dr Beyers Naude munisipale woordvoerder, Edwardine Abader, het ontken dat die eerste brandbestrydingsvoertuig op die toneel sonder water was, soos wat beweer is.
"Brandweermanne het onmiddellik reageer en hulle gehaas na die brand. Met hulle aankoms op die toneel het van die omstanders op die voertuig gespring en 'n meganisme (starter ropes) beskadig.
"Drie minute later het die tweede brandbestrydingsvoertuig daar aangekom, gevolg deur 'n brandweerwa. Al ons brandweermanne was op die toneel. Te oordeel na gelang van die omstanders se gedrag tydens die brand, is dit duidelik dat ons dringend 'n bewusmakingsveldtog moet loods om mense op te voed oor die branddienste se modus operandi en al die risikos verbonde aan brande en die bestryding daarvan."
Skoolopsigter Lukas Adams se hart is baie seer.
'n Persoon wat op die toneel was het bevestig dat die skare hulle wangedra het en die brandweer se pogings om die brand te blus bemoeilik het deur op die toneel saam te drom.
Versoeke om terug te staan is geignoreer.
Die skoolopsigter van 25 jaar, Lukas Adams, sê die skool het in die laaste tyd erg onder vandale deurgeloop en daarom is hy oortuig dat die brand doelbewus gestig is. Adams se hart is baie seer oor sy geliefde skooltjie wat nou net 'n hoop rommel en as is.
Wyksraadslid Joy Williams is na die brand op sosiale media aangeval omdat sy nie dadelik op die toneel was nie, maar Wiliams sê die kritiek is onregverdig.
"Ek is die een wat die brandweer ontbied het. Ek het ook verkeer en die direkteur gebel. Die oproepe het tyd gevat. Vir die lede van die publiek wat wel gehelp het om die brand te blus, sê ek baie dankie."
Die skool is vermoedelik met opset aan die brand gesteek. Foto's: Sakkie van Zyl
Williams en Sonstraal se skoolhoof, Vivian Kemp, is in verbinding met Gift of the Givers vir hulp om die skool te herbou.
"Ons poog om so vinnig as moontlik 'n gedeelte van die skool sodanig te herbou dat daar darem plek is vir die kleintjies wanneer die skole weer heropen in Februarie. Ons het 'n kwotasie vir R31 000 gekry."
Williams vra die gemeenskap om saam te staan om die skool te herbou en dat mense wat kan bydra haar kontak by 071 335 7942.
"Ons het dringend hulp nodig. Dit sal geweldig waardeer word."
Die skool is verwoes.
Raadslid Joy Williams het die brandweer ingelig oor die brand.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'