GRAAFF-REINET NUUS - Die pas afgelope Sondagoggend, 27 Januarie, het die amptelike feesvieringe van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) te Kroonvale, Graaff-Reinet, se 200ste bestaansjaar afgeskop.
‘n Kort oordenkingsdiens, deur ds. Gawie Basson, is gehou in die Hester Rupert-kunsmuseum - dié perseel het 200 jaar terug gedien as die oorspronklike kerkgebou van dié gemeente.
Ds. Basson het hier ook 'n kort oorsig oor die geskiedenis van die ontstaan van die kerk gelewer wat vir baie van die diensgangers 'n nostalgiese besoek aan die verlede was met baie van die ouer garde wat vir interessante staaltjies oor die kerk se verlede gesorg het.
Hierna het die gemeentelede in 'n konvooi voertuie deur Kerkstraat gery, om uiteindelik by die res van die gemeente in Kroonvale aan te sluit.
Die konvooi is toe deur die kerk-brigade se musiek na die huidige perseel van die VGK in Kroonvale gelei.
Hier het die gemeente en omstanders, onder luide applous, balonne die lug in gestuur.
'n Diens het toe gevolg by dié kerkgebou wat deur ds. Petrus Gysman gelei is.
Die organiseerders van die dag se verrigtinge bedank graag almal teenwoordig vir hul ondersteuning.
'n Konvooi voertuie is deur die kerk-brigade se musiek deur die strate gelei.'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'