GRAAFF-REINET NUUS - 'n Welbekende inwoner van Graaff-Reinet, Piet Theron (86), is verlede maand dood na 'n kort siekbed.
Voor sy sterfte het hy 'n afspraak met die Advertiser redakteur gehad, om digter en George-inwoner Samuel Swanepoel se roman En toe kom die Reën, te bespreek.
Theron het telefonies verduidelik dat hy graag een van Swanepoel se gedigte in die Advertiser wou publiseer. Theron het egter 'n paar dae voor hul afspraak gesterf.
Ons het intussen 'n kopie van die roman opgespoor, en publiseer graag 'n uittreksel van die gedig Krale van Klip:
O Heer, gebruik ons as klippe in die mure wat U bou!
Hou ons nederig om deel van U muur te wees.Wanneer ons oud word en nie meer hoekstene kan wees. Laat ons dan wiggies wees wat U kraalmure stewig hou.
Theron het op 'n tyd 'n rubriek in die Advertiser gehad, en het dit Toeka se dae genoem. Dáár het hy baie stories gehad om te vertel, omdat hy juis so lank deel was van die gemeenskap.
Hy het, byvoorbeeld, in 1987 Graaff-Reinet se eerste voetslaanklub gestig, waarvan hy vir 16 jaar die voorsitter was.
In 2002 het hy oorgeskuif na die Kamdeboo Privaat Voetslaanklub, waar hy 12 jaar voorsitter was. Theron se liefde vir die natuur kom al van kleintyd af. In Graad Vyf was hy 'n lid van die plaaslike Boy Scouts. "My Union-maats het daaraan behoort, toe beland ek ook daar," het hy destyds verduidelik.
In die sestigsjare het hy gedien as Heemraadslid van die Voortrekker-korps van Graaff-Reinet.
Theron het vele ander posisies en prestasies behaal as inwoner van Graaff-Reinet, maar sal veral onthou word vir sy liefde vir stap, gesels, en omgee vir sy medemens.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'