GRAAFF-REINET NUUS - As jy hoop ‘n Barmhartige Samaritaan gaan jou te hulp wanneer jy ‘n pap band kry, bevind jy jou dalk in ‘n penarie.
Deesdae – omrede meeste mense besorg is oor hul veiligheid – stop motoriste nie meer maklik om ander motoriste te help nie.
Tydens ‘n onlangse byeenkoms van die Graaff-Reinet VLV-tak, het Tanya Vosloo stap-vir-stap vir die dames gedemonstreer hoe om ‘n band om te ruil – en ook belangrike wenke gedeel.
Die VLV-lede het die nuttige instruksies waardeer en kan nou, te danke aan Vosloo, met meer gemak die langpad aandurf.
Vosloo het die volgende wenke tydens die VLV-byeenkoms gedeel:
- Wanneer jy ‘n papwiel kry, moenie op rem trap nie. Haal voet van petrolpedaal af; hou stuurwiel stewig vas en laat motor self spoed verloor. Op omtrent 40km/uur kan rem liggies getrap word sodat daar veilig gestop kan word, ver van die ryvlak van die pad.
- Plaas die rooi driehoek ‘n paar meter agter motor in pad om ander motoriste te waarsku.
- Trek die motor se handrem op.
- Plaas houtblokke voor en agter die teenoorgestelde wiel om te keer dat motor vorentoe of agtertoe loop.
- Haal spaarwiel (maak gereeld seker dat die spaarwiel nog goed opgepomp is) uit motor en plaas voor die pap wiel onder die motor (om ‘n buffer te vorm as die motor dalk van domkrag sou afval).
- Haal domkrag uit kattebak bereplek en plaas op ‘n plat houtblokkie onder motor in die gleufie wat daarvoor aangedui is.
- Draai moere van ergste styfheid los.
- Draai die slinger om domkrag op te hys tot motor behoorlik opgelig is.
- Draai die moere nou heeltemal los met moersleutel (wat verleng is met ‘n ekstra stuk staalpyp) en haal uit en bere veilig bymekaar langs motor.
- Haal die wiel uit/af en sit langs motor neer.
- Haal spaarwiel onder motor uit en pas oor boute.
- Skroef die moere met die hand oorkruis terug en draai dan lossies met moersleutel (oorkruis) vas.
- Draai die domkrag na teenoorgestelde rigting om motor te laat sak tot wiel op grond staan.
- Draai moere nou met die moersleutel oorkruis stewig vas.
- Haal die domkrag onder motor uit en bere saam met die pap wiel en moersleutel in die kattebak.
- Bêre ook rooi driehoek.
- Maak seker dat daar geen aankomende verkeer is nie voor jy weer begin ry.
- Hou ‘n blikkie skuimsproei wat jy by ‘n hardewarewinkel kan koop in jou motor om in wiele wat net ‘n spyker/doring inkry te spuit om jou tot by ‘n veilige plek te kan laat ry.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'