KAROO NUUS - Die Grinch het beslis nie vanjaar Kersfees by Vuyani huis vir kinders gesteel nie. Son, roomys en hope pret - só moet 'n Somerkersfees in die Karoo mos lyk.
"Hierdie jaar was gevul met uitdagings en gekanselleerde geleenthede," het die woordvoerder van Vuyani, Riana van der Ahee, gesê. "Toe die tyd kom om Vuyani se Kerspartytjie te reël, moes ons seker maak die kinders sal nie teleurgesteld wees nie."
Op 9 Desember was teleurstelling beslis nie op die spyskaart toe springkastele en 'n waterglyplank vir die kinders by die botanies sportterrein gewag het nie. Die prettigheid is aanmekaargesit deur Willie van Rensburg en sy span, sowel as 'n span van Reinet Manor.
Hulle het ook gesorg vir heerlike worsbroodjies. Waterkaskenades is natuurlik nie dieselfde sonder roomys nie, wat geskenk is deur Izienne van Jaarsveld. Vir die afgelope 10 jaar hou Vuyani gewoonlik Kerspartytjie by Samara privaat wildreservaat.
Weens die toename in Covid-19-gevalle in Graaff-Reinet is hierdie geleentheid gekanselleer. Ten spyte hiervan het direkteur, Sarah Tomkins, steeds geld aan Vuyani geskenk vir Kersgeskenke en klere, deur die Friends of Samara-trustfonds.
"Die kinders kon nie wag vir hierdie geskenke nie, en is nie teleurgesteld nie," het Van der Ahee gesê.
Voor al die prettigheid is 'n klein prysuitdeling by Vuyani se leersentrum gehou, waartydens kinders vir verskeie eienskappe soos deursettingsvermoë, hulpvaardigheid en leierskap, sowel as akademiese vordering tydens die uitdagende skooljaar, diplomas ontvang het.
Drene Wilmar van Botha's Garage het gesorg vir 'n feestelike atmosfeer, met die skenking van 'n Kersboom en versierings. Vuyani het ook vir Alta Bojè bedank, wat vriende en familie genader het om 33 geskenkpakkies vir die kinders bymekaar te kry. In die sakkies was toiletware en 'n geskenkie. Bojè het ook gesorg vir middagete, deur skenkings van Meat & More, Oasis en Spar Camdeboo. Te dankie aan Delicious Meals en Profcon was daar kolwyntjies vir nagereg.
"Vuyani is natuurlik ook uiters dankbaar vir die Rupert Education Foundation vir hul ondersteuning van Vuyani se Leersentrum," het Van der Ahee afgesluit.
Vakansie, hier kom ek! Vuyani-leerders baljaar heerlike tydens hul onlangse Kerspartytjie. Foto's verskaf
Onderwysers Bettie Swartz en Hettie Pienaar saam met leerders van die Vuyani Learning Centre.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'