RUBRIEK - Vir my tweede snoeityd-afspraak vind ek oom Klaas op sy stoep onder die prieel. Ek bekyk die prieel en sien nêrens ernstige snoeiwerk nie. Die prieel is wel netjies en die netwerk van lote behoorlik en stewig gevleg, maar min is weggesny. Ek vra of oom Klaas klaar gesnoei is hier.
"Ja, kyk hierdie prieel is vir mooi en koelte. Hier snoei ek vir blaar; nie vir drag nie. So ek vleg meer en sny minder.
"Dis nog 'n bietjie vroeg, so ek snoei nie nou al die gevestigde wingerd nie, maar daar is een jong stoel wat ons sommer gou kan loop bydam.
"Eerste dinge eerste: onthou, jy snoei wingerd met 'n wingerdskêr, want hy is ook 'n handige meetstok terwyl jy snoei."
Hy wys sy skêr en verduidelik hoe dit verdeel is: van handvatsel-einde tot by 'n sekere punt presies 10 cm; dan tot by die volgende merkpunt nog 2 cm; en die volle skêrlengte is 14 cm ... almal mates wat 'n snoeier in die snoei van sy wingerd gebruik, beduie hy.
By die jong wingerdstoel sien ek die stam is al redelik stewig en by so 'n derde van die hoogte bokant die grond verdeel die stam in twee stewige stokke. Hulle loop elk in sy eie gebuigde rigting: ietwat opwaarts en dan horisontaal teen die heining. Met geen blare aan die wingerd nie, is dit maklik om te sien hoe die plantstruktuur vertak. Uit die twee horisontale arms spruit ander takkies wat redelik vertikaal gegroei het en van hulle af is daar weer verdere vertakkings. Oom Klaas begin knip.
"Snoeityd sny jy eerste alle dooie groei weg. Dooie goed hou die plant terug en is teelaarde vir peste en plae.
"Sien jy die stam met die twee stokke wat lyk soos 'n lyf en arms? Mmm ... net hulle moet bly, want dit is jou wingerdstok.
"Op jou wingerdstok se uitgestrekte arms groei jou draers. En dis hier waar jy begin meet wanneer jy 'n jong wingerd vorm. Onthou, wingerd is 'n rankplant; wat beteken jy het elke jaar nuwe lote op jou stokke (arms) terwyl jou stokke ook nog verder en langer aanhou groei. Jou arms groei sywaarts en uit hulle uit groei jou draers boontoe wat weer hulle eie lote vorm.
"As jy 'n jong wingerd reg wil vorm, moet jy vir jare geduld hê en nie skaam wees om die skêr in te lê nie. Kyk, hier kan jy sien is lote wat uit die stok kom wat mos duidelik al stewiger is as van die ander, né? Nou vat ons die maatstok: vir jong wingerd wil jy so elke 10 cm 'n draerloot uit jou stok laat kom. Alle groei tussenin vat jy weg, maak nie saak hoe mooi, gesond en vol belofte hulle lyk nie. Ja-ja, ek sien hoe jy my aankyk en nie kan glo hoe ek ellelange, gesonde lote uitknip nie, maar ek moet, hoor - 10 cm-reël en jy kies net die sterkstes om te bly, want dis jou oesdraers.
"Die lote wat nie weer moet groei nie, sny ek stomp af, net langs die verdikkingsbasis waar hulle uit die stok kom. Vir goeie rede – dis 'n skoon snit en presies waar die wond die vinnigste herstel en beste letsel sal vorm.
"Met jou stokke skoon en net die draers wat oorbly, moet jy die draers nou snoei. Nou meet jy weer: 2 cm. Jy snoei jou draerlote terug na so naby as moontlik aan 2 cm, maar nie korter nie. Let op die twee ogies op die draer; hulle moet bly. Los die draer te lank en jy gaan nie optimale drag hê nie; korter as 2 cm of sonder jou twee ogies en jy't jou draer doodgesny."
Oom Klaas trek weg en snoei. Ek kan skaars glo hoe hy met gemak en sonder huiwering pragtige lang lote eenvoudig uitknip en lostrek van waar hulle aan die heining gerank het. Gou is van die hele wingerd net 'n stam, twee sywaartse arms en so elke 10 cm 'n 2 cm lootjie oor. Dis al!
Ek sukkel om stil te bly: hoe kan hy die pragtige groei so verniel? Daar's dan net stompies oor! Hy sien my gesig en sê: "Rankplant, Boeta, rankplant. Wat klaar gegroei het, is klaar en moet áf sodat nuwe groei kan vorm.
"Ek weet ek hoef nie vandag vir jou te herinner dat snoei is soos om kinders groot te maak nie. Ek sien jy onthou en jy weet wat ek eintlik hier vir jou vertel. Maaar, ek wil tog maar vir jou sê, in jou lewe, onthou wie is die ware Wynstok, wie is die loot en wie is die ware Landbouer.
Wanneer daar skielike en onverwagse radikale ingryping en/of verandering in jou lewe is en jy voel asof jy alles verloor, onthou vandag se snoei en weet dis jou Landbouer wat werk aan jou. Jy sal weer groei en jy sal weer 'n oes vir jou Landbouer dra, want dis wat Sy wingerd doen."
Terwyl ons huis toe stap, mymer oom Klaas by homself: "Johannes 15, vers 2 ... hmmm ... een van my gunstelinge; ek moet onthou om vir oom Gert te vertel..."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’