JANSENVILLE NUUS - Allister Mati en Shahida Uddin is Saterdag 3 Desember as wenners tydens die Mnr. en Mej. Jansenville-kompetisie gekroon.
Die doel van hierdie kompetisie, georganiseer deur Edgar Douw en Christa Liesing, was om geld in te samel vir vyf minderbevoorregte kinders soos geïdentifiseer deur Douw.
Douw verduidelik dat hierdie kinders uit families in armoede kom en uitsluitlik kinders sonder ouers en werklose tienerouers is.
Wayne Liesing, raadslid Mandy Deyzel, Ricardo Pieterse en Michelle Liesing het as beoordelaars van die kompetisie opgetree. Pryse is deur die Ark Upon Sundays Restaurant, Wendy Boesak, JohnRoss Alkaster (Beida's Place), raadslid Mandy Deyzel en die gemeenskap van Jansenville geborg.
Die organiseerders se boodskap aan die gemeenskap is dat daar beter omgesien moet word na kinders in die gemeenskap.
"Kinders is ongelukkig en verdien nie om so swaar te kry nie. Hulle is die leiers en die ouers van môre - deur nou vir hulle te wys dat mense vir mekaar moet omgee kan soveel vrede en liefde onder ons bring."
Volgens Douw was die doel van die geleentheid ook om eenheid in die gemeenskap te bou.
"In 'n dorp soos Jansenville waar werkloosheid werklik 'n groot uitdaging is, is dit belangrik dat mense na mekaar moet omsien. 'It takes a village to raise a child' en dit is hoofsaaklik hoekom ons hierdie veldtog begin het."
'Ons bring jou die nuutste Jansenville, Karoo nuus'