GRAAFF-REINET NUUS - Die Skoolskoen-projek, gestig deur raadslid Ricardo Smith op 16 Junie 2017, het onlangs 50 pare skoolskoene aan leerders van Kroonvale, Lincom en Ryneveld Primêr geskenk.
Smith sê die doel van hierdie projek was om te verseker dat skoolkinders nie moet ophou skool toe gaan net omdat hulle nie skoolskoene het nie.
Omdat dit vir hom belangrik is om kinders aan te moedig om skool klaar te maak, en moontlik verder te gaan studeer indien die geleentheid daar is, het die uitdeel van skoolskoene 'n jaarlikse instelling geword.
Die Skoolskoen-projek is tans in sy sesde bestaansjaar en Smith vertel dat hulle dit nog elke jaar kon regkry om skoolskoene met behulp van donasies aan te koop.
Die oorhandiging van die skoolskoene by hierdie drie plaaslike laerskole is deur die burgemeester, Ewald Loock, Smith en DA LP Samantha Graham-Maré behartig as deel van die DA se Menseregtedagvieringe.
Smith sê verder dat hy nog Lettie de Klerk Primêr se skoolskoene by hom het en dat hy dit gaan oorhandig sodra hy weer Nieu- Bethesda toe gaan.
Hy is ook by sopkombuise in die gemeen-skap betrokke en voorsien tans drie sopkombuise van voorraad, twee in Nieu- Bethesda en een wat hy onlangs by sy huis in Acaciastraat, Graaff-Reinet begin het.
"Ek ontvang min donasies, maar hoop om binnekort meer ondersteuning vir die sopkombuise te verseker."
Hy het almal bedank wat die skenkings moontlik gemaak het en ook die wat bydraes tot die sopkombuise lewer.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'