GRAAFF-REINET NUUS - Onthou die naam Millriano Ellias (13). Dié hoofseun van Narsingstraat Primêr op Graaff-Reinet is binnekort in 'n film te sien, en dit is maar net die begin.
"Ek wil graag eendag 'n akteur word," vertel Millriano aan die Graaff-Reinet Advertiser in die skoolhoof, Trevor Moos, se kantoor. Dit was eintlik Millriano se af dag by die skool (die gr. 7's kom in skofte weens Covid-19-regulasies), maar hy het spesiaal, in skoolklere, gekom om oor sy rol in Tears Become Rain te gesels.
Die film, geregisseer deur David Brits, fokus op die droogte in Graaff-Reinet, en hoe 500 sangers in 'n massakoor sing vir reën. Millriano vertolk Kabbo, die hoofrol, wat op 'n reis is op soek na water. Die film is een van die projekte in die Rupert-museum se Social Impact Arts Prize 2020, wat 'n beroep op kunstenaars landwyd gemaak het om 'n kunsprojek op Graaff-Reinet te doen wat 'n inpak op die gemeenskap het.
Tears Become Rain fokus op die krag van musiek om mense bymekaar te bring. Die massakoor bestaan uit koorsangers van kore regoor Graaff-Reinet. Millriano vertel dat hy vir drie dae deel van die verfilming was.
"Dit was so cool om deel daarvan te wees, al was ek eers bietjie nervous," sê Millriano. Maar toe die proses eers begin was dit vir hom heel lekker, en hy sal self nie omgee om 'n kameraman te word nie. "Dit of 'n rugbyspeler," voeg hy by.
Volgens Millriano is hy nog altyd lief vir films en reekse en hy kyk graag Binnelanders en Suidooster. Sy gunsteling karakter op TV is Arendsvlei se Beatrice Abrahams, vertolk deur Jolene Martin.
Millriano Ellias (13) se droom om 'n akteur te word is binnekort 'n realiteit, nadat hy die hoofrol in 'n film oor Graaff-Reinet losgeslaan het. Foto's: Paula-Ann Smit
Millriano sê sy ouers is trots op hom, en hy is veral dankbaar vir sy skool, wat hom genomineer het vir die rol. "Dankie aan my skool vir hierdie geleentheid en dat hulle my genader het."
Moos sê Narsingstraat is net so trots op Millriano. "Ons is in ekstase oor sy prestasie. Hy het 'n visie vir die toekoms, en ons glo dit sal sy klasmaats aanspoor om ook hoër hoogtes te bereik."
Millriano se raad aan aspirante akteurs is om aan te hou droom. "Volg wat jou hart vir jou sê."
Inligting oor die bekendstelling van die film sal later bekend gemaak word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'